|

AfriForum Jeug wen rassediskriminasiesaak teen NWU

Die Noordwes-hooggeregshof het op 12 Oktober beslis dat Ian Buys wel as kandidaat vir die kampusstudenteraad (KSR) mag staan nadat daar vroeër teen Buys gediskrimineer is.  AfriForum Jeug het ’n saak van diskriminasie teen die NWU aanhangig gemaak en Buys is op 14 Oktober – twee dae ná die hof se beslissing – in kennis gestel dat hy wel vir die verkiesing mag staan.

Buys is op 29 September 2020 in kennis gestel dat sy aansoek onsuksesvol was om vir die KSR te staan. Hy het skynbaar nie aan klousule 2.6 van skedule 2 van die KSR-grondwet voldoen nie. Dié klousule is egter eers bygevoeg ná die verkiesingsproses op 14 September ’n aanvang geneem het. Die klousule meld dat slegs studente wat aan hierdie klousule voldoen, mag aansoek doen om aan die KSR-verkiesing te mag deelneem. Twee portefeuljes onder elke KSR moet vir diversiteitsdoeleindes gereserveer word en Buys het nie aan dié vereiste voldoen nie.

AfriForum Jeug se regsverteenwoordiger, Johann Venter van Hurter Spies Ing., het Buys verteenwoordig. Die Hooggeregshof het beslis dat klousule 2.6 onreëlmatig is en dat Buys wel kwalifiseer om as kandidaat in die KSR-verkiesing te staan. Regter Justice Gura het ook beslis dat veranderinge aan die KSR-grondwet vóór die aanvang van die verkiesingsproses aangebring moes word.

“Wanneer dit kom by ’n proses waar mense tot magsposisies verkies word, moet die proses regmatig en op grond van meriete geskied eerder as die kleur van jou vel,” sê Chantelle du Preez, nasionale jeugkoördineerder vir tersiêre instellings by AfriForum Jeug.

“Die nievoldoening aan die legaliteitsbeginsel word sterk in regter Gura se uitspraak onder die lope geneem en ons voel dit is belangrik om die NWU in verband hiermee op terme te plaas,” sê Johann Venter, kandidaatprokureur by Hurter Spies Ing.

AfriForum Jeug is die grootste Afrikaner-jeugorganisasie wat jong Afrikaners se burgerregte in ons plaaslike gemeenskappe en by verskeie tersiêre instellings regoor die land beskerm. Raak vandag nog by AfriForum Jeug se strukture betrokke en help om ’n verskil te maak: E‑pos chantelle.dupreez@afriforum.co.za of SMS “Jeug” na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings