|

AfriForum Jeug wil opstaan vir studenteregte by Tuks

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum Jeug neem vanjaar vir die vyfde keer deel aan die verkiesing van die verteenwoordigende studenteraad (VSR) by die Universiteit van Pretoria (UP).

Sedert AfriForum Jeug begin deelneem het aan die VSR-verkiesing by Tuks, het die organisasie elke tweede jaar ’n presidentkandidaatwenner gelewer, In 2014 is ’n hoogtepunt bereik en het AfriForum Jeug  50% van die totale setels ingepalm, waaronder twee setels op die uitvoerende bestuur van die studenteraad.

Vanjaar hoop AfriForum Jeug om weer sukses te behaal en tien nuwe kandidate staan gereed vir die uitdagings wat die verkiesing mag inhou.

“Ons kandidate is vanjaar almal besonderse sterk leiers. As voorbereiding vir die verkiesing hou ons standpuntgesprekke met hulle. Ons is baie beïndruk met die gehalte van vanjaar se kandidate en die insig en passie wat hulle vir studentekwessies by Tuks toon,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Hy het bygevoeg dat AfriForum Jeug se benadering tot die verkiesing steeds fokus op persoonlike interaksie met studente. “AfriForum Jeug is regdeur die jaar aktief betrokke op verskeie kampusse en nie net tydens verkiesings nie. Daarom weet ons wat die probleme is en hoe om dit te benader.”

Mizanne van Niekerk staan vir transformasie en studentesukses en sê dat sy graag die kampus meer toeganklik wil maak vir alle studente. “Dit is nodig dat ons mekaar as mede-studente sien sonder om mense te klassifiseer volgens ras, taal of kultuur. Regverdigheid en gelykheid is vir my baie belangrik.”

Henrico Barnard, wat vanjaar VSR-lid vir internasionale en na-graadse studente was, is AfriForum Jeug se presidentskandidaat. “Ek verstaan die hiërargie by die universiteit en meen my ervaring met bestuur, studenteleierskapstrukture, asook my interaksie met studente, bied my die nodige ervaring  om te kan staan as VSR-president. Hy het ook bygevoeg dat sy koshuiservaring hom blootgestel het aan mense van verskeie tale en kulture. “Ek het gange gedeel met studente van Zimbabwe, Namibië en Burkina Faso en het begrip vir die verskillende behoeftes van plaaslike asook internasionale studente.”

Die kandidaat vir eksterne kampusse en dagstudente, Anleo Jansen, sê dat hy graag ‘n rol wil speel in die besluitnemingsprosesse by die universiteit, veral ten opsigte van eksterne kampusse. “As ’n student van die mediese kampus het ek begrip vir die frustrasies en die gevoel van uitsluiting wat studente van eksterne kampusse ervaar. Ek sal die univeristeit graag wil help om meer regverdig na al sy studente om te sien.”

Leoné Pretorius staan vir studiefinansiering en het ’n passie om studente te bemagtig by die universiteit. “Ek glo dat elke student die reg het om te kan studeer sonder dat finansiële druk op hom of haar geplaas word.”

Leoné studeer maatskaplike werk en sê wil graag sien dat studente geleentheid kry om hul volle potensiaal te bereik met behulp van die nodige finansiële ondersteuning.

Ander kandidate sluit in Celeste Botha vir verenigings, Jacus Kruger as sekretaris, Marthinus Jacobs as tesourier, Pieter Botes vir fasiliteite, Joliza Nothnagel vir bemarking, media en kommunikasie en Juan-Roux Zwaan vir na-graadse en internasionale studente.

Die VSR-verkiesing vind op Dinsdag 1 September plaas. Daar sal stempunte op elke kampus van die UP wees.

Soortgelyke plasings