|

AfriForum kap eksplorasiepermitte vir skaliegasontginning

Alet Rademeyer

AfriForum en die Treasure the Karoo Action Group (TKAG), gesamentlik bekend as die Alliansie, is van mening dat die toekenning van eksplorasiepermitte deur die regering ondeurdag en onverantwoordelik is.

Dít volg na die mees onlangse uitreikings van dié permitte wat maatskappye in staat sal stel om skaliegas deur middel van hidrobreking te ontgin. Dié proses is ook weens die regering besig om wyer as die Karoo, waar die Alliansie hidrobreking die afgelope paar jaar beveg, uit te kring.

In die jongste ontwikkeling wil Sungu Sungu Gas, ’n eksplorasiemaatskappy, na olie en gas op 5 600 vierkante kilometer aan die voet van die Drakensberge in KwaZulu-Natal soek. Die maatskappy wil ook in die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes prospekteer wat die gebied in sy visier op sowat 100 000 vierkante kilometer sal bring.

Luidens mediaberigte beoog die maatskappy om 20 gebiede af te baken waarin boorwerk gedoen sal word.

Sungu Sungu se aansoek kom kort nadat Rhino Oil and Gas SA ook aansoek gedoen het om op 10 000 plase in KwaZulu-Natal na olie, helium en gas te prospekteer. Daar is ook aansoeke om te prospekteer in die Noord-Vrystaat en dele van Mpumalanga.

Lambert de Klerk, AfriForum se assistentkoördineerder, sê die Alliansie het die departement van minerale hulpbronne reeds op terme geplaas en hofstukke op hulle beteken oor die onvoldoende wetgewing en regulasies rakende petroleumontginning en -produksie wat veiligheidstandaarde in plek moet stel vir volhoubare omgewingsbestuur en -beskerming.

“Die departement het versuim om ʼn volledige omgewingsimpakstudie te doen alvorens die permitte, en die daaropvolgende lisensies, uitgereik is. ʼn Wetenskaplike proses moet te alle tye geskied waartydens ʼn behoorlike omgewingsimpakstudie voltooi word wat alle risiko’s duidelik identifiseer. Dié studie stel die wetgewer verder in staat om regulasies in plek te kry om Suid-Afrikaners se grondwetlike regte te beskerm,” sê De Klerk.

Jonathan Deal, TKAG se uitvoerende hoof, sê dat die Alliansie reeds aan die begin van sy anti-hidrobrekingsveldtog in 2011 gewaarsku het dat hidrobreking nie net in die Karoo sal bly soos in daardie stadium deur die regering aangevoer is nie, maar later ook ʼn nasionale probleem sou word.

Die Alliansie moedig alle gemeenskappe aan wat buite die geaffekteerde provinsies geleë is om ook hul misnoeë hierteen uit te spreek deur ʼn e-pos aan De Klerk te stuur by lambert@afriforum.co.za. Volgens die Alliansie is die regulasies wat tans gevolg word, swak opgestel en onvoldoende.

AfriForum het die betrokke maatskappye versoek om antwoorde aan die burgerregte-organisasie te verskaf oor die volhoubaarheid van werkskepping ná hidrobreking plaasgevind het, asook waar die massas water vandaan gaan kom wat nodig is om hierdie aktiwiteite te bedryf.

“Studies toon dat water wat in die hidrobrekingsproses gebruik word meestal onherwinbaar is en dat die chemikalieë wat gebruik word nadelig is vir die mens en omgewing,” sê De Klerk.

AfriForum het reeds as geaffekteerde party in KwaZulu-Natal en die Vrystaat geregistreer in gebiede waar die regering hidrobreking oorweeg. Deel van dié proses is ook om nuwe alliansievennote te vind.

Die VF Plus het hom ook vandeesweek as belangeparty tot die eksplorasie-aansoeke in die Vrystaat geregistreer. Die party is gekant teen die beplande eksplorasie-aansoeke vir die ontginning van gas, olie en kondensaatbronne wat die Vrystaat as kosmandjie van Suid-Afrika in wese kan verander. “Volgens chemiese ingenieurs en kenners kan die metodes van eksplorasie die ondergrondse watertafel laat daal en water vergiftig wat dit vir mens en dier onveilig sal maak.

“Groot dele van die Vrystaat is ten volle afhanklik van fonteine en boorgate. Die fonteine wat in die Meul- en Wilgerriviere inloop, kan vergiftig word,” het Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, gesê.

AfriForum het lede van gemeenskappe uitgenooi om die Alliansie ondersteun deur ʼn petisie te onderteken of “Nee” na 45354 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings