AfriForum kap enorme elektrisiteitstariefverhoging by openbare sitting


Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan op Vrydag 11 Mei 2018 kommentaar oor Eskom se jongste aansoek om tariefverhogings by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se openbare sitting in Soweto, Gauteng, lewer.
Eskom is op soek na R67 miljard se fondse om vir onverwagte uitgawes te vergoed en dit kan tot ’n massiewe 35%-verhoging in elektrisiteitspryse lei.

Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê hierdie proses is nie veronderstel om ’n korrupsiebefondsingstrategie te wees nie. “Ons voorlegging by Nersa sal breedweg op drie aspekte toegespits wees: Eerstens, op korrupte aktiwiteite by die elektrisiteitsvoorsiener; tweedens, op Eskom se operasionele kostes; en derdens sal die algemene bestuur van Eskom ook bespreek word.”
Mostert verwys onder meer na hoe Eskom tussen 2007 en vanjaar wegholindiensneming beleef het, terwyl elektrisiteitsverkope grootliks dieselfde gebly en die ekonomie die laaste paar jaar teen ’n sleurgang gegroei het. Primêre energiekostes het ook die hoogte ingeskiet en korrupsie, veral ten opsigte van die aankoop van steenkool, het beslis ’n rol hierin gespeel. “Nersa neem slegs geregverdigde primêre energiekostes in ag wanneer hulle oor die tariefverhoging besluit. Daar is baie bewyse wat daarop dui dat die toename in die primêre energiekostes oor die afgelope dekade uiters ongeregverdig was.”
AfriForum het daarbenewens ook Nersa se planne om kragopwekkers en sonpanele te registreer, reguleer en belas, in sy visier. “Ons gaan beslis daarop kommentaar lewer en dit teëstaan,” sê Mostert.

AfriForum vra dat jy asseblief jou stem by ’n versoekskrif voeg om hierdie tariefverhoging teë te staan. Klik hier: https://afriforum.co.za/kragtariefverhoging/.

Soortgelyke plasings