AfriForum kap Eskom-korrupsie en -wanadministrasie in kommentaar


AfriForum het vandag geskrewe kommentaar oor die elektrisiteitstariefverhoging wat Eskom vir die 2019/2020- finansiële jaar aangevra het by die Nasionale Energie Reguleerder van Suid-Afrika (NERSA) ingedien. Die burgerregte-organisasie voer aan dat die kostes van Eskom se beweerde korrupte aktiwiteite en wanadministrasie by die berekening van die verhoging in die komende jaar se elektrisiteitstarief uitgesluit moet word.

Eskom het ’n aansoek vir  ’n verhoging van 15% vir die 2019/2020-boekjaar ingedien. Hierdie aansoek kom te midde van ’n reeks ondersoeke wat nasionale tesourie afgehandel het oor oortredings ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999.

“Eskom versoek hierdie tariefverhoging terwyl verhogings van vorige regulatoriese aansuiweringsrekeningaansoeke (Engels: Regulatory Clearing Account) ook van volgende jaar af in werking gestel word om R8 miljard in te sluit. Mens sou hoop dat die nuwe bestuur die situasie daadwerklik wil omkeer, maar die midjaarverslag se statistiek toon dat Eskom se bestuur nie werklik verbeter nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.

AfriForum voer aan dat Eskom se wanadministrasie nie by Eskom se tariefverhogingsaansoek ingesluit kan word nie en dat NERSA geregtig is om korrupsie en wanadministrasie daarby uit te sluit. Die volgende feite moet ook in ag geneem word:

  • Agterstallige munisipale skuld het in die 2018-jaarverslag met R4,3 miljard na R13,6 miljard vergroot. Die midjaarverslag toon dat hierdie skuld reeds met R3,4 miljard tot R17 miljard gegroei het.
  • Eskom se skuld het in Maart 2018 op R389 miljard te staan gekom en intussen tot R419 miljard gegroei.
  • Die werknemerkorps het van 47 658 in 2017 tot 48 628 in 2018 toegeneem.
  • Tydens loononderhandelinge is ’n bonus van R10 000 sonder verklaring aan elke werknemer uitbetaal.
  • In 2018 het onreëlmatige besteding R19 miljard oorskry. Dié bedrag is slegs gegrond op kontrakte wat ’n waarde van R25 miljoen oorskry het.

Dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake, sê daar sal radikale verandering moet plaasvind indien Eskom as maatskappy wil oorleef. “Die land se kragnetwerk is reeds onder druk weens lae steenkoolreserwes. As die staat nie hierdie entiteit verantwoordelik kan bestuur nie, sal daar herbesin moet word om Eskom se monopolie moontlik te verbreek. Indien dit nié sou plaasvind nie, mag die land dalk in donkerte gehul word,” sê Brink.

AfriForum sal in Januarie 2019 ’n voorlegging aan NERSA oor die tariefverhoging doen.

Soortgelyke plasings