|

AfriForum kap Eskom-korrupsie en -wanadministrasie

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag geskrewe kommentaar by die Nasionale Energie Reguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ingedien rakende Eskom se elektrisiteitsverhoging wat vir die 2022/2023-, 2023/2024- en 2024/2025-boekjare aangevra is. Hoewel Eskom se skuldlas verlig is, word die kragverskaffer steeds geteister deur die gebrek aan sorgvuldige uitgawebestuur, verkrygingsbestuur en wanadministrasie. Hierdie kostes moet nie by die berekening van die verhoging in die komende jaar se elektrisiteitstarief ingesluit word nie. Eskom het aansoek gedoen om ’n verhoging van 20,5% vir die 2022/2023-boekjaar.

Nersa het die mandaat om die verbruiker te beskerm. Slegs omsigtige uitgawes kan van verbruikers verhaal word en dit beteken dat Nersa nie die feit kan miskyk dat Eskom steeds met ’n verkryginskrisis sit ná vele jare van oudits wat die probleem uitwys nie. Nersa kan nie toelaat dat die tarief aanhou verhoog teen die tempo wat dit die laaste dekade geklim het nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake.

“Indien dit nie vir Eskom moontlik is om – soos wetgewing vereis – optimaal te kan funksioneer nie, moet geleenthede geskep word vir ander rolspelers om ook aan die opwekking van energie deel te neem. Die vraag is egter hoe Eskom sal vaar indien sy prestasie teen ’n privaat opwekker gemeet sal word?” sê Mostert.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê dat so ’n verhoging ’n wesenlike impak op die ekonomie kan hê “Die publiek leef met Eskom se selfgeskepte krisisse saam in die vorm van beurtkrag en nou word ons, te midde van ’n sukkelende ekonomie en massiewe werkloosheid, gevra om nog buitensporige verhogings ook te dra. Dit is onaanvaarbaar,” sê Brink. AfriForum sal ook ’n voorlegging aan Nersa oor die tariefverhoging doen.

Soortgelyke plasings