AfriForum kap onteiening sonder vergoeding in parlement


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag tydens ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee belas met die hersiening van artikel 25 van die Grondwet aangevoer dat die ANC/EFF-alliansie se inisiatief om onteiening sonder vergoeding deur te voer ’n poging is om soveel as moontlik mag in die staat te sentraliseer en dat die aanvoerders van hierdie beleid geen ontsag vir die pleidooi van arm Suid-Afrikaners toon nie.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, voer in sy voorlegging namens AfriForum aan dat die ANC en sy alliansievennoot, die EFF, se veldtog op ’n reeks drogargumente geskoei is. “Die eerste drogargument is ’n oorvereenvoudigde en verdraaide perspektief op die verlede. Die tweede is die ideologiese standpunt dat sentralisering van mag in die staat tot die publiek se voordeel is. Derdens word die beleid geskoei op die drogargument dat die erodering van eiendomsreg en ’n gepeuter met gesonde markbeginsels tot ekonomiese groei sal lei,” sê Roets.

Roets voer verder aan dat daar meer sinvolle stappe is wat geneem kan word om grondhervorming op ’n gesonde wyse te bewerkstellig. Dit sluit die volgende in:

  • Die erkenning van eiendomsreg as vertrekpunt.
  • Die doeltreffende bekamping van korrupsie, in besonder korrupsie wat met grondhervorming gepaard gaan.
  • Restitusie wat op ’n feitelike en bewysbare perspektief op die verlede geskoei is.
  • Die uitreik van titelaktes aan miljoene lede van die publiek wat op staatsgrond woon.

AfriForum se voorlegging aan die portefeuljekomitee kan by hierdie skakel gevind word: https://afriforum.co.za/wp-content/uploads/20180423-AfriForum-Land-and-land-reform-Draft-2-compressed-1.pdf.

Soortgelyke plasings