AfriForum kap regering oor staking van listeriose-toetse


Die burgerregte-organisasie AfriForum het die regering se besluit om listeriose-toetse by die land se hawens te staak, veroordeel.
’n Brief het onlangs aan die lig gekom waarin Aneliswa Cele, hoof van omgewingsgesondheid en hawegesondheidsdienste, gelas dat hierdie toetse gestaak word. Daarin word aangevoer dat dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, reeds binnelandse verwerkingsaanlegte as die bron van besmetting geïdentifiseer het.

“Daar is steeds soveel onbeantwoorde vrae oor die onlangse epidemie, wat die grootste listeriose-uitbreking in wêreldgeskiedenis is. Polonie bestaan uit verskeie bestanddele, waarvan baie per skip in die land aankom. Die regering se besluit is ’n voortydige stap en alle buitelandse voedselprodukte wat die land binnekom, moet steeds getoets word, terwyl verdere binnelandse toetse ook gedoen moet word,” sê dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Brink sê dit is steeds nie duidelik hoe die listeriose-besmetting by die Enterprise-aanleg in Polokwane ontstaan het nie. Baie navorsing moet nog in hierdie verband gedoen word.

“Verkooppunte moet ook voortdurend en beter gemoniteer en nagevors word, terwyl besoedelde water ook ’n baie waarskynlike besmettingsbron kan wees. Die minister van gesondheid erken self dat sy departement ’n tekort van sowat 3 000 gesondheidsinspekteurs het, wat beteken dat daar vele punte is waar besmetting kan plaasvind.”

AfriForum is reeds besig om die gehalte van drink- en afvalwater te toets en sal in die toekoms ook vir listeriose in water toets.

Soortgelyke plasings