AfriForum kap verswakking in munisipale ouditresultate


Die burgerregte-organisasie AfriForum het die ANC en die regering geroskam oor die verswakking in munisipale ouditresultate en hul lakse houding jeens verantwoordbaarheid. Dit volg nadat die ouditeur-generaal (OG) die uitslae vir die 2017/2018-boekjaar vandag bekend gemaak het.

Morne Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê dit is ’n skande – maar geen verrassing nie – dat daar weer ’n agteruitgang te bespeur is nie. “Ons sien dit nou al vir etlike jare. Pres. Cyril Ramaphosa se droom van megastede is ’n klug as ons nie eens basiese rekeningkundige beginsels kan toepas nie.  

“Die Grondwet plaas ’n verpligting op munisipaliteite om verantwoordingspligtige regering vir plaaslike gemeenskappe te voorsien. Die OG is ’n hoofstuk 9-instelling wat aantoon hoe munisipaliteite aan hierdie standaard voldoen. Dit behoort as bewys te dien dat die ANC nie net misluk om gemeenskappe van basiese dienste te voorsien nie, maar ook nie aan die standaard voldoen wat die Grondwet voorskryf nie.”

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê die OG se werk het oor die laaste twee jaar nie net moeilik geword nie, maar ook gevaarlik.

“Die OG se personeel word gedreig en toegang tot geboue, rekords en finansiële state geweier, en daar was selfs al gewelddadige voorvalle soos korrupte en onbevoegde munisipale amptenare hul wandade probeer toesmeer.
“Plaaslike regering is die vlak wat die naaste aan gemeenskappe is en as dít nie behoorlik funksioneer nie, gaan daar groot ontevredenheid en chaos heers. Dit is inderdaad vandag in menige munisipaliteit die geval. Die ANC-beheerde regering en munisipaliteite moet pa staan vir hierdie gemors, en antwoorde aan belastingbetalers en inwoners verskaf.”

Mostert en Brink voer aan dat dit net nie vir die staat moontlik is om homself verantwoordbaar te hou nie en dat daar ’n algehele gebrek is aan leierskap en die wil om te hervorm. “Dit is waarom burgerlike organisasies toenemend hierdie rol vervul,” sê Mostert.

Soortgelyke plasings