AfriForum Kempton Park se jeug sê nee vir morsjorse


AfriForum Jeug in Kempton Park het op Saterdag, 11 Februarie 2017, ‘n skoonmaakaksie van stapel gestuur by die ingang van die oorlaaistasie in Norkem Park wat reeds vir ‘n geruime tyd ‘n gesondheidsrisiko inhou. Terselfdertyd het hulle die buurtwag se GRE (Gemeenskapsreaksie-eenheid) ingespan om die skoonmaakspan veilig te hou.Die munisipaliteit het ook later opgedaag om te help, en te kenne gegee dat die oorlaaistasie probleme veroorsaak aangesien daar talle leeglêers is wat in die rommel grou en dit rondstrooi. ‘n Plaaslike sekuriteitsmaatskappy, MML Sekuriteit, het bygedra deur twee sekuriteitskameras te borg wat opgerig kan word om morsjorse vas te trek.

“Ons sal aanhou druk toepas op die munisipaliteit om die omgewing skoon te hou en die oorlaaistasie te monitor. Ons het ‘n geenstortingsbord aan die hek van die oorlaaistasie aangebring om voornemende morsjorse te waarsku dat daar streng teen hulle opgetree sal word,” sê René Reichel, voorsitter van AfriForum Jeug in Kempton Park.
“Dit is verblydend om te sien dat die jeug ook aktief betrokke raak en bydra tot ‘n beter omgewing. Pro-aktiewe optrede is die oplossing en jeugbetrokkenheid kan ons help bou aan ’n beter toekoms,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid.

AfriForum Jeug doen ‘n beroep op jongmense in Kempton Park om betrokke te raak by die plaaslike jeugtak se aktiwiteite. Om die tak se aktiwiteite dop te hou, besoek gerus hul Facebook-blad.

Soortgelyke plasings