AfriForum keur nie die intimidasie van hul buurtwaglede goed nie


Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en lede van die plaaslike gemeenskapspolisiërings­forum (GPF) in die Benoni-area het gedurende die afgelope paar maande AfriForum-buurtwaglede geïntimideer en gedreig om buurtwaglede wat besig is om die area te patrolleer te arresteer.
Die SAPD en GPF se handelings in dié verband is egter onregmatig, aangesien dit nie strook met die Polisiewet (wetno. 68 van 1995) en ander relevante wetgewing nie. Artikel 18(2) van die Polisiewet bepaal dat die SAPD met enige ander liggaam bo en behalwe die GPF ook kan saamwerk ten einde onder andere die veiligheid van die gemeenskap te verseker. Voorts is daar geen wetgewing wat patrollies belet nie.
Ná verskeie korrespondensie aan die SAPD wat AfriForum se standpunte stel, asook geïgnoreerde versoeke om te vergader en die situasie te bespreek, was AfriForum genoop om ’n advokaat vir ’n regsopinie te nader. Die SAPD is van die gemelde opinie verwittig, maar het nooit op die inhoud daarvan geantwoord nie.

“AfriForum se buurtwagte tree binne die raamwerk van die wet op en ontvang gereeld opleiding. AfriForum-lede kan nie ontneem word van hul reg om hul gemeenskappe te beveilig nie. Indien die owerhede wel voortgaan om AfriForum se buurtwaglede onregmatig te arresteer omdat hulle aan patrollies deelneem, sal AfriForum nie skroom om die relevante forums vir die gepaste regshulp en kostebevele te nader nie,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekshoof vir veiligheid in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga (noordstreek).

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1 per SMS).

Soortgelyke plasings