|

AfriForum kla Malema aan oor aanhitsing om grond te gryp

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag strafregtelike klagtes van aanhitsing tot betreding teen Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), by die Lyttelton Polisiestasie ingedien.

Dít volg nadat Malema die afgelope naweek tydens die EFF se vierde verjaarsdagviering sy ondersteuners aangehits het om wit mense se grond te gryp.

Luidens mediaberigte het Malema tydens sy toespraak gesê dat mense wat nie land het nie lafaards is. “Gaan identifiseer ʼn stuk grond enige plek waar jy wil. Hierdie is jou land. In my wyk in Seshego het ons dit gedoen. Die eienaar het gesê dat hy na ons geluister het en dat ons die helfte van die grond mag kry. As jy nie luister nie gaan jy die hele land verloor. Wit grondeienaars moet grond deel.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat Malema een van die land se invloedrykste politici is en dat die aanhitsing van misdadigheid deur ’n politieke figuur soos hy met die nodige erns aangespreek moet word.

“Ons verwag van die polisie om die saak deeglik te ondersoek en van die vervolgingsgesag om die nodige stappe in hierdie verband te doen.”

AfriForum is reeds in ’n hofstryd met Malema oor grondgrype gewikkel en dié saak sal 11 September 2017 aangehoor word.

Malema het ook in November 2016 in die Newcastle-landdroshof op ʼn klagte van oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste verskryn, waartydens hy versoek het dat die saak vir ses maande uitgestel word omdat hy ʼn aansoek by die konstitusionele hof wil indien om dié wet ongrondwetlik te laat verklaar.

 

Soortgelyke plasings