AfriForum: Klagtes teen Limpopo se Departement van Gesondheid ingedien oor verkwiste R220 miljoen


AfriForum het vandag, as deel van sy nasionale veldtog teen wanbesteding in die gesondheidsektor, strafregtelike klagtes teen Ntsie Kgaphole, hoof van Limpopo se departement van gesondheid, ingedien. Dít volg ná die organisasie die departement se jaarverslag bestudeer het en gevind het dat Kgaphole skuldig is aan oortredings ingevolge Artikel 86(1) van die Openbare Finansiëlebestuurswet, 1999 (Wetno. 1 van 1999).
AfriForum het al nege provinsies tussen 5 en 9 November 2018 besoek, waartydens strafregtelike klagtes teen die hoofde van elke provinsiale departement van gesondheid ingedien is.

“AfriForum is van mening dat die misbruik van belastingbetalers se geld ’n nasionale krisis is,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Soutpansberg.
Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om voorbeelde te maak uit departementshoofde wat nie hul pligte, soos vervat in die Wet, nakom nie. Hulle is van die grootste boosdoeners in die wanbesteding van belastingbetalers se geld,” voeg Grobbelaar by.

Limpopo se departement van gesondheid se jaarverslag dui aan dat die departement onreëlmatige besteding van R217 miljoen in die 2016/2017-finansiële jaar aangegaan het. Die departement het ook vrugtelose en verkwistende besteding van R3,3 miljoen in die 2016/2017-finansiële jaar aangegaan.
Onreëlmatige besteding is alle uitgawes wat teenstrydig is met die Wet se voorskrifte. Ongemagtigde besteding is alle uitgawes wat aangegaan word en teenstrydig met die goedgekeurde begroting is. Vrugtelose en verkwistende besteding is uitgawes wat tevergeefs aangegaan is en voorkom kon word indien redelike voorsorg getref was. Hierdie buitensporige besteding kon voorkom word sou Kgaphole sy pligte nagekom het.

“Die klagtes teen die departementshoofde is op hul beweerde finansiële wanbesteding ingevolge die bogenoemde Wet gebaseer. Hulle moet onreëlmatige, ongemagtigde, vrugtelose en verkwistende besteding voorkom en skuldige partye aanspreeklik hou. Die departementshoofde laat belastingbetalers in die steek deur te misluk in die uitvoer van hul pligte,” sluit Grobbelaar af.

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45344 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.stopkorrupsie.co.za te onderteken.

Soortgelyke plasings