AfriForum: Klagtes teen provinsiale gesondheidsdepartemente oor meer as R10 miljard se verkwisting


AfriForum het sy nasionale veldtog teen wanbesteding in die gesondheidsektor vandag van stapel gestuur. As deel van dié veldtog sal die burgerregte-organisasie in die volgende week al nege provinsies besoek, waartydens strafregtelike klagtes ingevolge Artikel 86(1) van die Openbare Finansiële­bestuurswet, 1999 (Wetno. 1 van 1999) teen nege hoofde van die provinsiale gesondheidsdepartemente ingedien sal word.
Hierdie nege departemente was almal skuldig aan onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde besteding, met altesaam meer as R10 miljard se verkwisting in die 2016/2017-finansiële jaar. Hierdie inligting is uit die departemente se jaarverslae bekom.
Die eerste klagtes word teen die huidige Gautengse gesondheidsdepartementhoof, Mkhululi Lukhele, ingedien wat in die 2017/2018-finansiële jaar R1,3 miljard wanbestee het. Hierdie wanbesteding is bo en behalwe dié departement se onreëlmatige uitgawes vir die 2016/2017-finansiële jaar wat R1,8 miljard beloop het.

“AfriForum is van mening dat die misbruik van belastingbetalers se geld ’n nasionale krisis is. Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om voorbeelde te maak van departementshoofde wat nie hul pligte, soos vervat in die Wet, nakom nie. Hulle is van die grootste skuldiges in die misbruik van belastingbetalers se geld,” sê Monique Taute, AfriForum se hoof van veldtogte.
Die klagtes teen die departementshoofde is op hul beweerde finansiële misbruik ingevolge die Wet gebaseer. “Hulle moet onreëlmatige, ongemagtigde, vrugtelose en verkwistende besteding voorkom en skuldige partye aanspreeklik hou. Verder is die departementshoofde verplig om volledige rekords van hul departemente se finansiële sake ingevolge voorgeskrewe wetgewing, norme en standaarde by te hou. Dit is egter duidelik uit die departemente se jaarverslae dat hierdie verantwoordelikhede glad nie nagekom word nie,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se regsadviseur vir plaaslikekorrupsiesake.

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45344 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.stopkorrupsie.co.za te onderteken.
 

Soortgelyke plasings