|

AfriForum-kongres skep hoop

Deur Esmarie Prinsloo

Hoop op ʼn toekoms van vryheid, veiligheid en voorspoed. Dít is waarmee 450 AfriForum-afgevaardigdes van 155 takstrukture van regoor Suid-Afrika dié organisasie se nasionale kongres in Limpopo afgesluit het én waarmee hulle die toekoms begroet.

Volgens Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die belangrikste besluit wat by die kongres geneem is die toepassing van gemeenskapselfstandigheid in plaas van regeringsafhanklikheid.

“Omdat Afrikaners nie hierdie land regeer nie, beteken dit nie dat ons ons lewenstandaard moet prysgee nie.  Ons mobiliseer Afrikaners om ’n selfdoenvermoë in hulle AfriForum-takke te ontwikkel, sodat ons probleme – hetsy prakties, deur hofsake of openbare druk – vir Afrikaners, en terselfdertyd vir alle Suid-Afrikaners, kan oplos,” het Jansen van Rensburg gesê.

“As die ondersteuners van ʼn omstrede politieke party, soos die EFF, grond wil beset, gaan ons ook die vermoë ontwikkel om besetters te verwyder indien die polisie nie hul werk doen nie.”

AfriForum het reeds 55 gevestigde buurtwagte wat deur sigbare gebiedsdominering ʼn beduidende afname in misdaad tot gevolg het. As ʼn uitvloeisel van die buurtwagsukses, het AfriForum ’n Nasionale Veiligheidsplan bekendgestel, wat die landwye stigting van buurtwagte vir selfbeveiliging behels.

“Ons wil oor die volgende drie jaar graag sien dat ál ons strukture buurtwagte vestig met sterk radionetwerke en beheerkamers, dat mense daaraan sal deelneem en dat die takke sal groei,” het Jansen van Rensburg bygevoeg.

Slegs in 2015 het AfriForum onder meer:

  • 60 aksies in Selfdoenweek in Julie uitgevoer. Dit het die herstel van slaggate, die skoonmaak van dorpe en buurtwagpatrollies ingesluit.
  • Meer as 1000 bome geplant in boomplantweek.
  • Die watergehalte by meer as 800 punte getoets en skoon drinkwater aan minstens 500 000 mense voorsien.
  • Verhoed dat nege munisipaliteite se elektrisiteit afgesny word en só die ligte vir sowat 2 miljoen mense laat brand.
  • 15 rioolsuiweringswerke herstel.
  • 56 vullisterreine geoudit.

“Selfstandigheid is die eerste stap om ons toekoms in eie hande te neem, en die selfstandigheidsaksies wat tydens die 10 Dae van Selfstandigheid-veldtog, vanaf 28 September, in 80 munisipale gebiede sigbare verbetering gaan meebring, is ʼn voorbeeld dat hierdie droom haalbaar is,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum gesê.

ʼn Sterk jeugfokus binne AfriForum se takstrukture is nóg ʼn besluit wat prioriteit vir toepassing gaan geniet.

“Ons wil hê die jeug, insluitend werkende jongmense, moet by AfriForum inskakel, sodat hulle betrokke kan raak by die ophou van ons land én die positiewe dinge wat op voetsoolvlak gebeur kan ervaar,” het Jansen van Rensburg gesê.

“Die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, praat gereeld van die verskil tussen ʼn groot en ʼn sterk organisasie. ʼn Groot organisasie kan oor baie lede beskik, maar nie noodwendig sterk wees, indien die lede nie gemobiliseer kan word om ʼn praktiese verskil te maak nie. Met sowat 145 000 betalende lede, is AfriForum groot, en dié kongres dien as bewys dat ons ook sterk is,” het Kriel bygevoeg.

Jansen van Rensburg sê die padkaart is uitgelê, al wat nou voorlê is om die besluite wat geneem is tot uitvoer te bring, en “AfriForum moedig ieder en elk aan om moue op te rol, by selfdoen-aksies betrokke te raak en saam die oplossing te wees.”

“Ek gaan nie hierdie land verlaat nie. Ek gaan hier baklei vir ʼn toekoms, want my mense wat voor my hier was, het met bloed betaal vir ons lewensreg hier, en ek gaan dit vir niks op aarde prysgee nie.”

 

Soortgelyke plasings