AfriForum kry hofbevel teen Vhembe Distriksmunisipaliteit


Die AfriForum-tak in Louis Trichardt het vandag ’n hofbevel in die Noord-Gautengse hoë hof teen die Vhembe Distriksmunisipaliteit en die burgermeester gekry.
Die hof het gelas dat die munisipaliteit die hofbevele binne 30 dae moet nakom. As dit nie gebeur nie, sal AfriForum ’n minagtingsaansoek bring wat tot arrestasie van die skuldiges sal lei.
Die hofbevel behels onder meer dat die munisipaliteit die dorp se watertoevoer moet herstel, die boorgatprojek weer op die been moet bring, asook die boorgate teen vandale moet beveilig. Die munisipaliteit sal ook kennis moet gee oor wanneer die gemeenskap sonder water gaan wees en vir hoe lank só ’n droogtetydperk sal duur.
Die aansoek is gebring omdat die munisipaliteit misluk het om Louis Trichardt se boorgatinfrastruktuur te onderhou en te beveilig. Die gemeenskap ervaar reeds jare lank ’n probleem met konstante watertoevoer.

“Toegang tot water is ’n basiese grondwetlike reg en belastingbetalers betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie. Dit is onaanvaarbaar en ons is bly dat die hof dit so ingesien het. Die feit dat die munisipaliteit nie opgedaag het om die aansoek teen te staan nie, is ’n verdere aanduiding dat hulle nie vir die gemeenskap omgee nie,” sê Chris Boshoff, AfriForum se streekskoördineerder vir Limpopo.
“Desperate inwoners van Louis Trichardt vestig al hulle hoop op hierdie hofsaak sodat die  watertoevoer na die dorp ten volle herstel kan word. Die distriksmunisipaliteit het talle geleenthede gehad om ’n eenvoudige boorgatplan uit te voer wat die waterkrisis sou stuit, maar dit het nie gebeur nie. Ons hoop dat die uitspraak daartoe sal lei dat amptenare nou hul werk begin doen,” sê Wally Schultz, voorsitter van die AfriForum-tak in Louis Trichardt.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Tak” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings