|

AfriForum kry hofbevel teen Vhembe Distriksmunisipaliteit

AfriForum het ʼn oorwinning behaal toe die Noord-Gautengse hoë hof vandag gelas het dat die Vhembe Distriksmunisipaliteit en die burgemeester watertoevoer in Louis Trichardt binne 30 dae moet herstel.

Volgens Wally Schultz, voorsitter van die AfriForum-tak in Louis Trichardt, is dié aansoek gebring omdat die munisipaliteit misluk het om die dorp se boorgatinfrastruktuur te onderhou en te beveilig.

Dié hofbevel behels onder meer dat die munisipaliteit die dorp se watertoevoer moet herstel, die boorgatprojek (wat in 2013 in samewerking met AfriForum opgestel is) weer op die been moet bring, asook die boorgate teen vandale moet beveilig. Die munisipaliteit sal ook inwoners vroegtydig in kennis moet stel oor wanneer hul sonder water gaan wees en vir hoe lank só ’n droogtetydperk sal duur.

Die gemeenskap ervaar reeds sedert 2012 ’n probleem met konstante watertoevoer. Daarom het AfriForum die munisipaliteit reeds in 2013 genader om ʼn gesamentlike oplossing te vind deur die “boorgatprojek” te begin om boorgate te beveilig, maar volgens Schultz het die munisipaliteit egter nie sy kant gebring nie.

Die Louis Trichardt-tak het ook in 2016 ’n 5 000-liter watertenk by ’n boorgat in President Steynstraat in dié dorp geïnstalleer om verligting te bring aan inwoners tydens watertekorte.

“Desperate inwoners van Louis Trichardt vestig al hulle hoop op hierdie hofsaak sodat die watertoevoer na die dorp ten volle herstel kan word. Die distriksmunisipaliteit het talle geleenthede gehad om ’n eenvoudige boorgatplan uit te voer wat die waterkrisis sou stuit, maar dit het nie gebeur nie. Ons hoop dat die uitspraak daartoe sal lei dat amptenare nou hul werk begin doen,” het Schultz gesê.

“Toegang tot water is ’n basiese grondwetlike reg en belastingbetalers betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie. Dit is onaanvaarbaar en ons is bly dat die hof dit so ingesien het. Die feit dat die munisipaliteit nie opgedaag het om die aansoek teen te staan nie, is ’n verdere aanduiding dat hulle nie vir die gemeenskap omgee nie,” sê Chris Boshoff, AfriForum se streekskoördineerder vir Limpopo.

Volg die skakel vir die video oor die hofsaak: https://www.youtube.com/watch?v=LIW4Oq8IhVY

 

Soortgelyke plasings