|

AfriForum kry Matlosana Plaaslike Munisipaliteit September in hof oor rioolstorting

Die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit sal op 23 September 2022 aan die Hooggeregshof in Mafikeng moet verduidelik hoekom die omvattende regshulp wat AfriForum weens die munisipaliteit se voortslepende rioolstorting vra, nie toegestaan moet word nie.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, verduidelik dat AfriForum in hofstukke vra dat die munisipaliteit deur ’n hofbevel beveel word om omvattende herstelwerk te doen binne nege maande na die bevel toegestaan is.

“AfriForum versoek ’n hofbevel dat die munisipaliteit noodsaaklike herstelwerk aan die rioolaanleg doen om te verseker dat rou of onverwerkte riool nie verder gestort word nie. Hierdie herstelwerk moet geskied na gelang van aanbevelings in omvattende verslae wat AfriForum se spesialiste aan die hof voorlê,” sê Pretorius.

Frans Roos, voorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp, sê dat die munisipaliteit jare reeds etlike stuks wetgewing breek deur die swak bestuur van die rioolaanleg en storting van riool. “Mens en dier is jare reeds blootgestel aan die gesondheidsrisiko’s wat gepaardgaan met die munisipaliteit se argelose gebrek aan herstelwerk, onderhoud en behoorlike bestuur van die rioolaanleg. Die munisipaliteit moet tot orde geroep word en voldoen aan wetgewing,” verduidelik Roos.

Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om die munisipaliteit tot verantwoording te roep. Word deel van die oplossing: SMS “Klerksdorp” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings