|

AfriForum kry uitsettingsbevel teen onwettige besetters

AfriForum het pas ’n suksesvolle uitsettingsbevel teen onwettige besetters in die Mafikeng-hooggeregshof in Noordwes gekry.

Dit kom nadat die burgerregte-organisasie grondeienaars van die Marikana-omgewing bygestaan het. Onwettige besetters het sedert Saterdag op die grond van mnre. Dougie Lake en sy pa, Johan van der Merwe, van die Rooikoppies-plotte in die Buffelspoort-omgewing, begin strukture oprig.

Ingevolge die hofbevel moet die besetters verwyder word en geen verdere besetting of oprigting van strukture mag plaasvind nie.

AfriForum gaan die balju opdrag gee om die bevel so spoedig moontlik te beteken en uit te voer, het Marcus Pawson, provinsiale koördineerder van Noordwes, gesê.

Pawson het gesê die uitspraak word verwelkom, maar die AfriForum is teleurgesteld in hoe die Marikana-polisie die saak van die begin af hanteer het. “Die polisie is veronderstel om ’n saak van betreding te open wanneer grondeienaars hul hulp inroep. “Dit het nie Saterdag gebeur nie en die versuim deur die polisie het veroorsaak dat dringend hof toe gegaan moes word om die besetters te stuit.”

Lake en Van der Merwe woon in Randfontein en ry elke dag na die eiendom van hulle naby Marikana waar hulle ’n werkswinkel bedryf.

Hulle is Saterdag deur ’n werknemer wat op die plot bly, ingelig dat ’n groep mense besig is om die grond te beset. Hulle het begin om pale in te slaan en afmetings te doen. Hulle het met voertuie op die plot aangekom en van hulle het rooi T-hemde soos die van die EFF gedra.

Die eienaars het probeer om ’n klag van betreding by die polisie aanhangig te maak, wat na bewering net bereid was om ’n inskrywing in die voorvalle-boek te maak.

Volgens Lake is hulle sonder sukses deurentyd tussen verskillende polisielede verwys. “Ons is van bakboord na stuurboord gestuur en het die indruk gekry dat die polisie ons nie wil help nie.

“’n Mens kan nie vir ’n ander beskryf wat deur jou kop gaan as mense onwettig op jou eiendom begin aankom en sommer net begin penne inkap en sinkhuise bou nie.

“Waar is die wet en orde in die land? Hoe stop mens so iets as jy voel dat die polisie nie bereid is om jou te help nie?”

Die aanvanklike sinkhuisies het van drie Sondag na tot in die twintig vandag aangegroei.

Lake en Van der Merwe het gesê hulle voel totaal magteloos en weet nie wat hulle te doen staan as die plakkers nie summier verwyder word nie. “Hoe moet mense in hierdie land voortgaan en help om werk te skep as onregverdigheid en onwettigheid soos hierdie voorkom?”

Hulle het die hofuitspraak ook verwelkom.

Soortgelyke plasings