AfriForum lê klag van haatspraak teen Zindzi Mandela by SAMRK


Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n klag van haatspraak teen Zindzi Mandela, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Denemarke, by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gelê. Dít volg in reaksie op ’n reeks uiters verdelende en rassistiese Twitter-boodskappe wat sy op 14 Junie 2019 gestuur het.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, is dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, pas ná die boodskappe rugbaar geword het versoek om die ambassadeur terug te roep en af te dank. Hoewel die departement die saak ondersoek het en bevind het dat Mandela wel vir die boodskappe verantwoordelik was, is sy bloot oor die vingers getik. Dit blyk nou dat haar dienstermyn voorlopig tot Desember 2019 verleng is en geen verdere stappe van haar werkgewer se kant af teen haar sal volg nie. In die lig hiervan het AfriForum dus besluit om met ’n klag by die SAMRK voort te gaan.

“Met haar boodskappe het Mandela bewys gelewer van ’n haatdraende houding jeens wit inwoners van die land en het sy in die openbaar bygedra tot die verdeeldheid van plaaslike gemeenskappe. Met kru taal, asook vals en vernederende beskrywings soos ‘rapists’, ‘cowards’ en ‘land thieves’ help sy bou aan ’n gevaarlike diskoers van sondebokskepping,” sê Bailey.
“Haar verweer – dat sy geregtig is op haar persoonlike opinie – toon ’n algehele gebrek aan insig in haar verantwoordelikheid in haar pos om die beeld van Suid-Afrika te bevorder en alle Suid-Afrikaners sonder vooroordeel te dien. Dit strook ook glad nie met die Suid-Afrikaanse Grondwet wat onomwonde verklaar dat die land aan almal behoort nie. Sy moet vir haar optrede verantwoordbaar gehou word en AfriForum versoek die SAMRK om in hierdie verband ondersoek in te stel en op te tree,” voeg Bailey by.

Tans is die internasionale beeld van Suid-Afrika en die doen en late van die land se diplomate juis weer in die spervuur, met getuienis wat pas in die ondersoek na staatskaping teen Bruce Koloane, die huidige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland, aangehoor is en ’n mosie teen die regering se beplande rasgebaseerde program van onteiening sonder vergoeding wat verlede week in die Nederlandse parlement aanvaar is.

Soortgelyke plasings