AfriForum lê klag van strafbare manslag teen Eskom se Koko


AfriForum het op 2 Februarie 2017 in samewerking met die gemeenskap van Grabouw ’n klag van strafbare manslag teen Matshela Koko, die waarnemende hoof uitvoerende beampte van Eskom, by die plaaslike polisiestasie aanhangig gemaak.
Dié stap volg nadat ’n ma van twee op 18 Januarie 2017 doodgeskok is toe sy deur die oop veld naby die informele nedersetting Blikkiesdorp na haar huis gestap het. Sy het op ’n oop elektriese kabel getrap het wat onwettig van ’n lamppaal na ’n sinkhuis aangelê.

“Die gemeenskap van Grabouw het al op verskeie geleenthede die onwettige koppelings onder Eskom se aandag gebring. Dit het egter op dowe ore geval,” sê Sias van Tonder, ’n plaaslike AfriForum-lid.
“Na ’n besoek aan Blikkiesdorp is ek verbaas dat daar nie meer sulke ongelukke plaasvind nie. Elektrisiteit word met gewone bloudraad – wat gebruik word om heinings te span – direk van lamppale na sinkhuisies toe aangelê. Dié drade kruis oor en weer en lê in baie gevalle op die grond,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap.
“Die aangeleentheid is ook al onder die aandag van die kantoor van die Wes-Kaapse premier gebring, maar tot op hede is geen reaksie ontvang nie. Dit is ’n geval van nalatigheid en minagting van lewens,” sluit Van Dalen af.

Soortgelyke plasings