|

AfriForum lê korrupsieklag oor onregmatige toekenning van staatskontrak 

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n klag van korrupsie by die Wierdabrug-polisiestasie in Centurion ingedien. Dit volg op die Gautengse regering se onregmatige toekenning van ’n kontrak aan die IT-maatskappy In2IT, met wie Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir Onderwys, nou bande het.

In2IT het op 17 Julie 2019 ’n drie jaar lange borgskapooreenkoms met die Moroka Swallows-sokkerklub gesluit. Lesufi is die president van dié klub. Skaars nege maande later het die Gautengse Departement van Finansies en E-regering ’n tender ter waarde van R30 miljoen aan In2IT toegeken sonder dat tenderprosedures gevolg is en voordat die Minister van Kommunikasie toestemming gegee het dat die tenderproses opgeskort kon word. Die tender is aan In2IT toegeken binne 24 uur nadat tenders deur die regering aangevra is. Daarna het Tesourie sy ontevredenheid uitgespreek oor die proses wat met die toekenning van die tender gevolg is.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, kan Suid-Afrika veral tydens die COVID-19-krisis nie bekostig dat belastingbetalers se geld deur korrupte tenderprosesse geplunder word nie. Kriel voer aan dat onregmatige tenders beveg moet word, ook dié waarby senior politici soos Lesufi se naam genoem word. Volgens Kriel het Lesufi nooit in sy reaksie op die tenderdebakel ontken dat hy van dié tender geweet het nie. Kriel wys daarop dat die feit dat Lesufi se besluit – dat Swallows die borgskap van In2IT moes opsê – eers geneem is nadat ongerymdhede met die tendertoekenning aan In2IT aan die lig gekom het, ’n erkenning is dat die tendertoekenning onregmatig was. “As Lesufi se verbintenis met In2IT nie onregmatig was nie, waarom anders sou hy sy sokkerklub se bande met die maatskappy verbreek toe vrae oor dié tender ontstaan het?”

Kriel spreek ook sy kommer uit oor die feit dat Lesufi noue vriendskapsbande het met Tshepo Mokoena, een van In2IT se direkteure. Mokoena sou dus volgens Kriel direk voordeel trek uit die kontrak wat onregmatig deur die Gautengse regering toegeken is.

“Nog ’n direkteur van In2IT, Memme Maria Siyo, is volgens onlangse rekords nog in diens van die Staatsveiligheidsagentskap. Die regering se gedragskode verbied enige staatsamptenaar om met die regering besigheid doen,” sê Kriel.

Volgens Kriel het Dawid Mogashoa, voorsitter van die Swallows (dieselfde klub waarvan Lesufi die president is), se maatskappy Bahwiti ook ’n kontrak om motorbande aan die regering te verskaf.

Kriel hoop dat ’n volledige polisieondersoek groter duidelikheid sal bring oor die ernstige vrae wat oor die toekenning van die tender aan In2IT ontstaan het, en dat diegene vervolg sal word wat onwettig opgetree het.

Soortgelyke plasings