AfriForum lê strafregtelike klagtes teen munisipale bestuurder oor riool


AfriForum het strafregtelike klagtes teen Elias Ntoba, die munisipale bestuurder van die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit in Upington, by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ingedien. Dít volg nadat die munisipaliteit bly versuim om ernstige besoedeling wat deur riool op die dorp veroorsaak word, aan te spreek.
Volgens Gonda Louw, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, vloei rioolwater uit ’n mangat in ’n waterkanaal in. Die munisipaliteit het sandwalle gegooi, maar dit stuit nie rioolvloei nie.

“Die oorsaak van die probleem blyk die swak instandhouding van water- en rioolpype, asook blokkasies te wees. Dit is die munisipaliteit se plig om dié pype in stand te hou en, waar nodig, te herstel. Die munisipaliteit se versuim veroorsaak dat ondergrondse water, kanaalwater en die omgewing besoedel word. Dit skep ’n groot gesondheidsrisiko vir alle inwoners en diere,” sê Louw.

Volgens Dirk Lochner, voorsitter van AfriForum se Upington-tak, is sommige huise slegs 100 meter van die rioollekkasie geleë en die kanaal se water word ook vir besproeiing aangewend.
Wys jou steun vir die aksie deur “Riool” te SMS na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings