AfriForum lê strafregtelike klagtes teen munisipale bestuurder


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 26 Februarie 2018 strafregtelike klagtes teen Ombali Pheneas Sebola, munisipale bestuurder van die Lim 368 Plaaslike Munisipaliteit in Nylstroom, gelê weens die swak bestuur van rioolwerke en besoedeling van waterbronne.
Dit volg nadat verskeie klagtes vanuit die gemeenskap ontvang is oor riool wat in die strate afloop, mangate wat oorvloei en bloederige water wat vanuit ’n abattoir in die strate, vleilande en strome invloei. Dié klag is ingevolge artikel 151 van die Nasionale Waterwet, 1998 (Wetno. 36 van 1998) gelê, wat bepaal dat enige persoon wat water en waterbronne opsetlik besoedel daarvoor aanspreeklik gehou moet word.

“Die munisipaliteit is grondwetlik verplig om waterbronne te beskerm, maar dit is beslis nie hier die geval nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Grobbelaar voeg verder by dat die probleem veroorsaak word deur swak munisipale bestuur en instandhouding, en dat die skuldige partye vir die besoedeling aanspreeklik gehou moet word.

“Die munisipaliteit ontvang inwoners se belastinggeld om rioolwerke in stand te hou, op te gradeer en toe te sien dat riool nie die omgewing besoedel nie. Fondse moet aangewend word om gevalle soos hierdie te verhoed. Die munisipaliteit versuim om hul daadwerklike pligte na te kom en daarom is dit ons verantwoordelikheid as gemeenskap om die munisipaliteit tot verantwoording te roep,” sluit Grobbelaar af.

AfriForum gaan die saak verder by die polisie opvolg om te verseker dat die probleem reggestel word.

Soortgelyke plasings