AfriForum lê strafregtelike klagtes teen Naledi Plaaslike Munisipaliteit se munisipale bestuurder


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandeesweek strafregtelike klagtes teen Tshepo Bloom, munisipale bestuurder van die Naledi Plaaslike Munisipaliteit in Vryburg, gelê weens die swak bestuur van rioolwerke en besoedeling van waterbronne.
Dit volg nadat verskeie klagtes vanuit die gemeenskap ontvang is oor riool wat in die strate afloop, mangate wat oorvloei en riool wat weens die wanbestuur van die rioolwerke in die Klein Hartsrivier vloei. Dié klag is ingevolge artikel 151 van die Nasionale Waterwet, 1998 (Wetno. 36 van 1998) gelê, wat bepaal dat enige persoon wat water en waterbronne opsetlik besoedel daarvoor aanspreeklik gehou moet word.

“Die munisipaliteit is grondwetlik verplig om waterbronne te beskerm, maar dit is beslis nie hier die geval nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.
Pretorius voeg verder by dat die probleem veroorsaak word deur swak munisipale bestuur en instandhouding, en dat die skuldige partye vir die besoedeling aanspreeklik gehou moet word. “Die munisipaliteit ontvang inwoners se belastinggeld om sowel rioolwerke as die rioolinfrastruktuur in die dorp in stand te hou, op te gradeer en toe te sien dat riool nie die omgewing besoedel nie. Fondse moet aangewend word om gevalle soos hierdie te verhoed. Die munisipaliteit versuim om hul daadwerklike pligte na te kom en daarom is dit ons verantwoordelikheid as gemeenskap om die munisipaliteit tot verantwoording te roep,” sluit Pretorius af.

AfriForum gaan die saak verder by die polisie opvolg om te verseker dat dié probleem reggestel word. Die saak is ook onder die Groen Skerpioene se aandag gebring.
Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Vryburg” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings