|

AfriForum-lede ingeënt, maar sertifikate veroorsaak probleme

AfriForum het verskeie klagtes ontvang van lede wat probleme ondervind met inentingsertifikate nadat hulle entstof teen COVID-19 gekry het.

Dit blyk die oorsprong van dié probleme is onder meer met die rekenaarstelsel waarmee kodes opgeteken word wat gewoonlik nie aanpassings toelaat nie.

In die geval van André van Tonder van Oudtshoorn is dié tameletjie besig om ’n stokkie voor sy planne te steek om einde November in Koeweit te gaan werk. “Ek het onlangs ’n pos in Koeweit aanvaar, maar nadat daar met die administratiewe proses begin is, is bevind ek het nie die korrekte inenting ontvang om toegang tot dié land te kry nie. Ek het die Pfizer-entstof ontvang, maar my sertifikaat dui aan ek is met Comimaty ingespuit.”

“Ek was asimptomaties en dus onseker wanneer ek wel vir my tweede inenting kon gaan. Die staat se COVID-nooddiens en my eie mediese fonds kon my nie sê hoe lank ek moes wag nie.”

Comimaty is inderwaarheid wel die Pfizer-inspuiting. Van Tonder sê hy het elke denkbare hulplyn gebel en elke e-posadres wat hy kon opspoor om navraag te doen probeer, maar tot dusver kon hy nog nie sy sertifikaat aangepas kry nie. Die uiteinde hiervan is dat die Koeweitse regering sy aansoek om ’n visum summier afgekeur het.

“Uit desperaatheid het ek ook die J&J-inenting gekry, want dit word beslis in Koeweit aanvaar. Ná die tyd het ek egter uitgevind ’n nuwe sertifikaat kan nie hiervoor uitgereik word nie. Ek het dit eers uitgevind toe ek uiteindelik by ’n dame by die Departement van Gesondheid uitgekom het. Volgens haar word die name van die inenting deur ’n rekenaar gegenereer en kan dit nie verander word nie.

“Ek moes al in Koeweit gewees het en ek sal nie verbaas wees as hulle binnekort ’n alternatiewe kandidaat in plek aanstel wat wel mag reis nie. Ek het gehoor van ander mense wat ’n soortgelyke stel afgetrap het toe hulle na Duitsland wou verhuis,” vertel Van Tonder.

Dries Wannenburg, ’n administratiewe bestuurder op ’n plaas naby Hazyview in Mpumalanga, het ’n soortgelyke probleem met sy inentingsertifikaat ondervind. “Ek is na ’n mobiele inentingskliniek om die J&J-inspuiting te ontvang. Daar aangekom, is ek geregistreer en is ’n kode aan my voorsien. Net voor ek ingeënt is, is gevind my bloeddruk is te hoog en ek het gevolglik nié die inspuiting gekry nie.”

Wannenburg is op ’n later stadium na ’n plaaslike apteek waar hy wel met die Pfizer-entstof ingeënt is, maar hier kon hulle nie sy sertifikaat aanpas nie. Sy sertifikaat toon hy het die J&J-entstof ontvang. Ook sy navrae en versoeke om hulp aan verskeie partye, insluitend die Departement van Gesondheid, het op dowe ore geval.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, het ook ’n bloutjie geloop toe sy haar tweede inenting moes ontvang. “Met die eerste inenting het alles seepglad verloop, maar voor ek vir my tweede inspuiting moes gaan was ek in kontak met iemand wat positief vir die virus getoets het.

“Ek was asimptomaties en dus onseker wanneer ek wel vir my tweede inenting kon gaan. Die staat se COVID-nooddiens en my eie mediese fonds kon my nie sê hoe lank ek moes wag nie.”

Bailey het by ’n ander bron gehoor sy moet ’n maand wag voor sy haar tweede inspuiting kry. “Ek is na ’n maand terug na dieselfde sentrum, maar aangesien daar nie ’n lotnommer op my kaartjie was nie, wou hulle nie die tweede inenting toedien nie en ook nie die eerste een herhaal nie. ’n Toesighouer het van my probleem te hore gekom en gesê sy sal ’n plan maak. Ek was moedeloos en het ’n paar mense vir hulp gebel, maar niks uitgerig gekry nie. Gelukkig het die toesighouer wel ’n plan kon maak soos sy gesê het en ek kon twee weke later wel weer ingeënt word.”

Die vraag is wie verantwoordelik sou wees indien Bailey, in die twee weke wat sy langer moes wag, siek sou word?

Sy sê sy het totaal magteloos gevoel oor wat gebeur het en was bekommerd oor wat sy sou doen indien ’n instansie haar vir haar sertifikaat sou vra.

Forum Nuus het ’n navraag aan die Departement van Gesondheid gerig om onder meer te hoor hoe lank dit sal neem om ’n inentingsertifikaat aan te pas. Hulle sê dit behoort binne ’n paar dae vandat ’n versoek ontvang is, gedoen te word. Voorts sê hulle die nuwe QR-kodes sal binnekort in gebruik geneem word.

Mense wat probleme ondervind moet ’n e-pos stuur na Evdsqueries@health.gov.za of navraag doen by 0800 02999.

Soortgelyke plasings