|

AfriForum-leierskapsontwikkelingskamp berei jongmense op hul toekoms voor

Sowat 44 leerders van skole regoor die land het verlede week bymekaargekom tydens die burgerregte-organisasie AfriForum se tweede suksesvolle leierskapsontwikkelingskamp, wat by die Mooikrans Equus-plaas in Mpumalanga aangebied is.

Volgens Riaan Jacobs, opleidingshoof by AfriForum, poog dié kamp om kinders op die lewe ná skool voor te berei deur hul vaardighede as toekomstige leiers te ontwikkel. Hy meen die kamp is ’n ontdekkingsreis vir baie kinders wat onseker is oor watter loopbaanrigting hulle wil volg of by watter universiteit hulle wil studeer.

Die kamp vind op ’n Christelike grondslag plaas en fokus in besonder daarop om jongmense se leierskapsvaardighede te ontwikkel, asook om ’n groter waardering vir Afrikanerkultuur en -geskiedenis onder hulle te kweek.

’n Verskeidenheid van fisieke aktiwiteite en voorleggings word tydens die kamp aangebied, insluitende aanbiedinge oor leierskapsontwikkeling, Afrikanergeskiedenis, kommunikasie, konflikhantering, probleemoplossing, entrepreneurskap, studentelewe, paraatheid en selfverdediging.
“Ons wil kinders leer dat hulle enigiets kan aanpak indien hulle die regte gemoedsinstelling het,” meen Jacobs.

Leerders het ook die geleentheid om deel te neem aan ’n verskeidenheid van hindernisbane en om betrokke te wees by verskillende plaasaktiwiteite, soos die voer van diere.

“Dit is baie lekker om te sien hoe die kinders uit hul gemaksones tree en deelneem aan gesprekke of aktiwiteite wat voorheen vir hul ongemaklik of uitdagend was. Boonop word daar ook lewenslange vriendskappe gekweek,” sê hy.

AfriForum beoog om in 2017 ook ’n leierskapsontwikkelingskamp aan te bied.

“Hierdie kinders se deursettingsvermoë en karaktereienskappe gee vir ons as volwassenes hoop vir die land se toekoms. Ons sien baie uit daarna om weer só ’n kamp aan te bied.”

Soortgelyke plasings