AfriForum lewer kommentaar op voorgestelde hersiene taalbeleid van departement van kuns en kultuur


AfriForum het pas kommentaar gelewer op die voorgestelde hersiene taalbeleid van die departement van kuns en kultuur. Die vorige taalbeleid wat op 2 November 2014 in werking getree het, het die onderneming bevat dat dit minstens een keer elke vyf jaar hersien sou word en met die publikasie van die hersiene beleid in die Staatskoerant van 8 Maart 2019 is dit gestand gedoen.

Die hersiene beleid wyk slegs ’n geringe mate van die beleid van 2014 af. Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalsake, is dit sowel verblydend as kommerwekkend.

“Dit is verblydend dat die departement steeds nie net die minimum van drie tale as amptelike gebruikstale aanvaar soos die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, 2012 (wetno. 12 van 2012) vereis nie, maar al elf amptelike tale. Die hernude erkenning van die belang vir veeltaligheid in die land is ook van groot belang.”
“Daarteenoor bestaan die realiteit egter dat wanneer ’n lid van die publiek diens van die departement verlang, veeltaligheid of hulp in eie taal beslis nie vanselfsprekend is nie. Indien die departement ernstig oor die ondernemings is, moet dit meer konkrete stappe uiteensit wat kan verseker dat diens wel in meer tale gelewer kan word. Die klagtemeganisme waarvoor die beleid voorsiening maak, is ook vaag omskryf: geen vaste adres, ’n lang wagtyd van twee maande vir ’n antwoord op ’n klagte, geen aanduiding wat sal gebeur as ’n antwoord nie in dié tyd ontvang word nie en geen tydsbeperking vir ’n antwoord op ’n appèl teen ’n bevinding nie.”

Volgens Bailey stel AfriForum ook voor dat die departement veeltaligheid aktief kan bevorder deur personeel aan te moedig om meer amptelike tale formeel aan te leer en veeltalige personeel te beloon. Dit wil voorkom asof personeel soms taalvaardighede verswyg omdat kollegas wat minder tale ken, veeltaliges oorlaai. Erkenning vir taalvaardighede is dus nodig om die situasie om te keer en enkeltaliges aan te moedig om meer tale, insluitend gebaretaal, aan te leer.

“In die komende maande sal meer staatsdepartemente waarskynlik hulle beleide hersien. Die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, 2012 (wetno. 12 van 2012) verplig alle staatsinstellings om ’n taalbeleid op te stel en te hersien, maar helaas is daar steeds instellings wat nie aan dié verpligting gehoor gee nie. In die praktyk word min moeite gedoen om deurgaans enige ander taal as swak Engels te gebruik. Die publiek moet leer om hulle taalregte op te eis – staatsinstellings se verpligtings word dikwels versaak juis omdat so min stemme teen Engelse eentaligheid gehoor word,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings