AfriForum loods #AnkerdorpPadskou met selfdoenaksies in Pretoria


AfriForum skop vandag sy ankerdorppadskou in Pretoria af. Tydens dié loodsweek gaan AfriForum se personeel vullis in strate optel, padtekens verf en gebiede skoonmaak en ontbos, asook ’n diereskuiling besoek om skenkings van die publiek te oorhandig.
Die ankerdorppadskou is ’n veldtog waardeur hoop in verskeie dorpe in die land geskep gaan word. Deur die loop van die jaar gaan daar vir vier weke lank op verskeie dorpe gefokus word.

“Die verval van staatsdienste is by die meeste van ons gemeenskappe ’n frustrerende werklikheid. Die gevolg is dat AfriForum die afgelope aantal jare die selfdoenbeginsel gevestig het as ’n teenvoeter vir staatsverval. Die selflewering van dienste oor die lang termyn is dus ’n kernbeginsel in die strategiese doelwit van AfriForum se gemeenskapstrukture om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms te skep,” sê Johann Weber, AfriForum se hoof van gemeenskapstrukture.

Heelparty selfdoenaksies gaan in sewe dorpe in ses provinsies aangepak word. Tydens dié padskou sal gemeenskappe ook geleentheid kry om self moue op te rol om hul omgewings en dorpe beter en skoner te maak.
Aksies sal geloods word rondom omgewingsake, munisipale kwessies, gesondheids- en veiligheidsoudits, gemeenskapsveiligheid en jeugaangeleenthede. Skole sal ook besoek word, waar AfriForum se teenboelieveldtog leerders, ouers en onderwysers oor afknouery bewus sal maak. AfriForum sal ook ondernemings in die dorpe besoek en ook stalletjies beman waar die algemene publiek kan uitvind wat die organisasie alles doen.

“Ons wil graag inwoners aanmoedig om saam met die organisasie hande te vat en deel van die projekte te wees. Deur ons lede op plaaslike vlak te organiseer, gee ons die nodige vermoë aan gemeenskapstrukture om ’n volhoubare verskil ten opsigte van swak dienslewering te maak,” sê Weber.

Die volgende dorpe word ná afloop van die Februarie-loodsweek besoek:
Rustenburg (Maart 2019)
George (Mei 2019)
Nelspruit (Junie 2019)
Tzaneen (Julie 2019)
Krugersdorp (September 2019)
Secunda (Oktober 2019)
Bethlehem (November 2019)
Gemeenskapslede kan steeds deel van hierdie opwindende projek wees, selfs al woon hulle nie in een van die betrokke dorpe nie. Inwoners van omliggende dorpe word uitgenooi om deel te neem en ’n verskil te maak om ’n beter toekoms te skep. Verdere inligting oor dié padskou is by AfriForum se webtuiste www.ankerdorp.co.za beskikbaar.

“Onthou: As dit met jou buurman goed gaan, gaan dit ook met jou goed. En wie weet, volgende keer is AfriForum dalk in jóú dorp,” sluit Weber af.

Soortgelyke plasings