AfriForum loods dringende aansoek by Konstitusionele Hof oor Zuma-slenter


Die burgerregte-organisasie AfriForum loods vandag ’n dringende aansoek in die Konstitusionele Hof om Jacob Zuma, die voormalige staatspresident, se laaste poging tersyde te laat stel om strafregtelike vervolging te vermy.
Oudpresident Zuma het verlede Vrydag, slegs enkele dae voordat hy bedank het, die regulasies gepubliseer met die mandaat waaraan die kommissie van ondersoek moet voldoen. Dié kommissie sal deur die adjunk-regter-president en regter Raymond Zondo gelei word.
Regulasie 8(2) hiervan bepaal dat geen getuienis wat voor die kommissie dien of enige feite wat deur daardie getuienis na vore kom in strafregtelike verrigtinge gebruik mag word nie.
Die implikasie hiervan is dat Zuma in effek die kommissie van ondersoek se tande getrek het, aangesien enige onthullings voor die kommissie wat neerkom op korrupsie, omkopery, georganiseerde misdaad of enige ander misdryf wat verband hou met die omstrede en nou reeds oorbekende staatskaping, nie in ’n geregshof gebruik kan word om die skuld van enige beskuldigde wat later vervolg kan word, te bewys nie.
Die nuusspan van Jacaranda FM het verlede naweek onthul dat die regulasies, wat verlede Vrydag stil-stil gepubliseer is, hierdie omstrede bepaling bevat.
Aangesien hierdie saak met ’n grondwetlike versuim van die president self verband hou, is AfriForum van oordeel dat die ‘n saak binne die eksklusiewe jurisdiksie van die Konstitusionele Hof val. AfriForum het daarom ʼn aansoek om direkte toegang tot dié Hof vir hierdie dringende aansoek gebring.
Volgens die reëls van die Konstitusionele Hof sal die Presidensie en die Openbare Beskermer geleentheid kry om aan te dui of hulle dié aansoek teenstaan – met die gronde daarvoor – waarna die Konstitusionele Hof die aansoek kan oorweeg.
Indien die aansoek ontvanklik is vir hantering deur die Konstitusionele Hof, sal die hoofregter direktiewe uitreik waarvolgens die aangeleentheid afgehandel gaan word. AfriForum het vroeër reeds aangedui dat die organisasie alles in sy vermoë sal doen om toe te sien dat vervolging ingestel word weens die grootskaalse korrupsie en plundering van die staatskas wat onder leiding van die Zuma-administrasie plaasgevind het.
Volgens AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, is dit belangrik dat hierdie aansoek gebring word om te verseker dat die tande van die kommissie van ondersoek wat deur regter Zondo gelei gaan word nie byvoorbaat getrek is nie.

Soortgelyke plasings