AfriForum loods Rus in Vrede-veldtog in Bethal


Die AfriForum-tak in Bethal het verlede week ’n skoonmaakaksie by die Bethal-begraafplaas op die Morgenzon-pad geloods. Dít volg nadat die Bethal-begraafplaas vir ’n geruime tyd reeds in ’n haglike toestand is en dit ook onveilig is vir gemeenskapslede om hul geliefdes se grafte te besoek.
AfriForum het op 18 Julie 2017 ’n versoekskrif oor die toestand van die begraafplaas aan M. Melato, waarnemende munisipale bestuurder van die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit, oorhandig waarin die burgerregte-organisasie eis dat die terrein voor 1 Augustus 2017 op ’n volhoubare wyse skoongemaak word. Dié skrywe het egter geen resultate opgelwer nie.

“Die AfriForum-tak in Bethal wou saam met die munisipaliteit aan ’n volhoubare oplossing werk, maar dit blyk ongelukkig dat die munisipale bestuur geen respek vir die gemeenskap het nie,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.

Die begraafplaas sal ná afloop van AfriForum se inisiatief weer skoon, veilig en toeganklik vir die gemeenskap wees.

“Gemeenskappe kan deur selfdoenaksies die toekoms in eie hande neem. Inisiatiewe soos dié skep hoop in ’n gemeenskap en is ’n voorbeeld van hoe selfstandigheid deur gemeenskapslede bewerkstellig kan word,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

Soortgelyke plasings