AfriForum loods Rus in Vrede-veldtog in Brakpan


Die AfriForum-tak in Brakpan het op 21 Augustus 2017 ’n vergadering met die Ekhurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gehad oor die toestand van die Brakpan-begraafplaas. Dié begraafplaas sal binnekort weer skoon, veilig en toeganklik wees danksy AfriForum se proaktiewe optrede.
Dít volg nadat AfriForum op 28 Junie en 10 Augustus 2017 versoekskrifte aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gerig het oor die toestand van dié begraafplaas. Die burgerregte-organisasie het geëis dat die haglike toestand van die begraafplaas aangespreek en dit op ’n volhoubare wyse skoongemaak word.
Die munisipaliteit is deur Denis Ing (uitvoerende departementshoof van parke), Harriet Bless (bestuurder van begraafplase) en Phillip Motsoene (begraafplaasbestuurder ) verteenwoordig. Tydens die vergadering het AfriForum geleentheid gehad om ’n ondersoek by die begraafplaas te doen en verskeie probleme is aan die munisipaliteit uitgewys. Dit sluit onder meer in veiligheidsrisiko’s weens ’n gebrek aan sekuriteitsmaatreëls, onbeheerde toegang, vandalisme, vullisstorting, toegegroeide grafte en die verwaarlosing van die publieke toiletgeriewe.

“Danksy volgehoue druk deur die AfriForum-tak in Brakpan het die munisipaliteit ’n span gestuur om met die skoonmaakproses te begin. Die munisipaliteit het erken dat daar talle uitdagings is, ingestem om hierdie kwessie te prioritiseer en gaan eersdaags nuwe hekke oprig,” sê Drummond Doig, ondervoorsitter van AfriForum se Brakpan-tak.
“Ons sal die munisipaliteit met valkoë dophou en indien nodig sélf inspring om te versker dat die begraafplaas skoon bly. Inisiatiewe soos dié skep hoop in ’n gemeenskap en is ’n voorbeeld van hoe selfstandigheid deur gemeenskapslede bewerkstellig kan word,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Suid.

Soortgelyke plasings