AfriForum maak begraafplaas in noorde van Pretoria skoon


AfriForum het Saterdag die Vissershoek-begraafplaas opgeknap en weer toeganklik gemaak vir mense om hulle geliefdes wat daar begrawe is, te besoek. Dié aksie volg nadat AfriForum klagtes van gemeenskapslede ontvang het dat die begraafplaas in ’n haglike toestand is.  
Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord, sê dit is belangrik dat die finale rusplek van mense se afgestorwe geliefdes skoon en veilig moet wees sodat mense nie ongemaklik en onveilig voel om die begraafplaas te besoek nie.

Volgens Quentin Meyer, lid van AfriForum se tak in Pretoria-Noord, was die begraafplaas oorgroei met bosse en onkruid. “ʼn  Begraafplaas behoort ʼn plek te wees waar mense respek aan hulle oorlede geliefdes kan betoon en dit was onaanvaarbaar dat die begraafplaas in so ʼn haglike toestand was en daar is besluit om in te gryp en die begraafplaas self op te knap,” sê Meyer.
Oosthuizen sê ook dat AfriForum sal aanhou om aksies soos hierdie aan te pak om te verhoed dat dorpe se infrastruktuur ten gronde gaan. “Ons kan nie bloot terugsit en toekyk hoe die dinge wat vir ons belangrik is vergaan as gevolg van munisipale wanbestuur nie.”

Soortgelyke plasings