|

AfriForum maak begraafplase landwyd skoon met Rus In Vrede-veldtog

Sedert Junie vanjaar het verskeie AfriForum-takke landwyd ingegryp en self begin om begraafplase skoon te maak en op te knap as deel van hul Rus In Vrede-veldtog.

Tydens dié veldtog het AfriForum ondersoek ingestel na die toestand van verskeie begraafplase in die land en bevind baie mense moet jaarliks toekyk hoe hul geliefdes se grafstene geplunder word of onder bossies toegroei. Luidens mediaberigte word tientalle grafstene ook jaarliks gesteel en die waardevolle marmer of graniet verkoop of selfs vir kombuistoonbanke gebruik.

AfriForum-takke in Rustenburg, Witrivier, Belfast, Phalaborwa, Standerton, Middelburg, Brakpan en Daniëlskuil het reeds met werk by begraafplase begin.

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het ook in Augustus na afloop van ʼn nasionale veiligheidspatrollie die Stilfontein-begraafplaas skoongemaak.

Skrywes met versoeke dat begraafplase in samewerking met AfriForum skoongemaak word, is ook aan die Ekurhuleni-metro en die plaaslike munisipaliteite van Naledi, Tswaing, Lekwa-Teemane en Mamusa gerig.

Volgens Wico Swanepoel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng, het munisipaliteite ʼn grondwetlike plig om begraafplase skoon te maak en te onderhou. “Die munisipaliteite se versuim om hierdie verpligtinge na te kom, getuig van die vlak van wanbestuur en ook hul ongeërgde houding jeens die gemeenskap.”

“AfriForum sal voortdurend druk op munisipaliteite toepas om hul verantwoordelikhede na te kom. Tot dan is selfdoeninisiatiewe soos hierdie veldtog die beste resep,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordwes, sê dat aksies soos hierdie hoop skep en staatsonafhanklikheid binne gemeenskappe bevorder.

 

Soortgelyke plasings