Money geld

AfriForum maak beswaar teen ABSA se rassediskriminerende kriteria vir sakefinansiering

AfriForum se regspan het ’n skrywe aan Absa-bank gerig waarin hulle eis dat die bank hul toepassing van rassekriteria in die toestaan van sakefinansiering verduidelik. Dit volg op klagtes wat AfriForum van lede van die publiek ontvang het oor Absa se beweerde kwalifiserende kriteria vir sakelenings aan klein en medium ondernemings. Absa vereis onder meer dat ondernemings wat aansoek doen om ’n lening minstens 51% in swart besit moet wees. Die lenings bied toegang tot bedrae van R50 000 tot R1,5 miljoen vir nuwe en bestaande besighede met ’n minimum van 51% swart eienaarskap in alle sektore behalwe landbou.

In die lig van bogenoemde het AfriForum Absa versoek om skriftelik op die volgende vrae te antwoord:

  1. Waarom vereis Absa 51% swart eienaarskap om suksesvol vir ’n sakelening te kan aansoek doen?
  2. Is dit ’n statutêre en/of regulatoriese vereiste, of is dit Absa se interne beleid om slegs sakefinansiering te verskaf aan maatskappye wat 51% in swart besit is?
  3. Hoe regverdig Absa sy beleid met inagneming van die algemene reël dat besighede met ’n jaarlikse omset van minder as R10 miljoen as vrygestelde mikro-ondernemings (EMEs) kwalifiseer wat nie ’n volledige SEB-verifikasie hoef te slaag om ’n SEB-vlak te behaal nie?
  4. Hoe regverdig Absa die uitsluiting in die lig daarvan dat die Suid-Afrikaanse Grondwet nierassigheid en gelykheid voorstaan?
  5. Bied Absa ander opsies vir besighede wat nie 51% in swart besit is nie?

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê beleide en praktyke wat rasseklassifikasie vereis, verleng en hou die rasseklassifikasiestelsel wat deur die apartheidsregime gebruik is in stand. Dit pas in werklikheid die Bevolkingsregistrasiewet van 1950 toe lank nadat dit in 1991 herroep is.

“Dit maak ’n mens siek om te sien hoe genormaliseer diskriminasie teen rasseminderhede in Suid-Afrika geword het. Rassediskriminasie is in beginsel verkeerd, en die dubbele standaarde wat die ANC en sy bondgenote toepas, is afskuwelik en onaanvaarbaar,” sê Van Zyl.

Soortgelyke plasings