AfriForum maak blou-en-groendruppelverslag bekend

AfriForum het vanjaar as deel van die organisasie se jaarlikse blou-en-groendruppelprojek die drinkwater (bloudruppel) in 231 dorpe en die verwerkte rioolwater (groendruppel) van 142 rioolafvalwaterbehandelingswerke getoets. Die uitslae van dié verslag toon dat baie munisipaliteite steeds Artikel 24 van die Grondwet – wat ’n gesonde omgewing vir Suid-Afrikaners verseker – verontagsaam.

Luidens die verslag het vier dorpe (Hartswater, Jan Kempdorp, Kimberley en Wolmaransstad) se drinkwater en 122 rioolsuiweringswerke nie aan die nasionale standaarde voldoen nie. Nadat AfriForum hierdie vier dorpe se munisipaliteite daarvan in kennis gestel het, het opvolgwatertoetse daarop gedui dat die water weer geskik is vir menslike gebruik. Dit is ’n merkbare aanduiding van die regering en munisipale amptenare se swak dienslewering, veral met betrekking tot rioolaanlegte.  

Die uitslae van die 2021-opname toon dat daar ’n verbetering is in die gehalte van drinkwater in Suid-Afrika, maar dit is steeds kommerwekkend dat daar nog dorpe is wat nie van skoon, veilige drinkwater voorsien word nie.

“Die groendruppeluitslae is baie kommerwekkend – veral ten opsigte van swak rioolbestuur – en dit dui op die verdere verval van Suid-Afrika se infrastruktuur. ’n Tekort aan bekwame personeel om dié infrastruktuur te bestuur en die gebrekkige instandhouding van aanlegte is ook kommerwekkend,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

“Daar is steeds ’n probleem met die bestuur van rioolafvalwaterbehandelingswerke en dit is ’n groot bron tot kommer dat soveel aanlegte riool in ons riviere stort. ’n Verder bron tot kommer is dat toegang by aanlegte geweier is. Die grootste bekommernis – soos in die geval van Lydenburg in Mpumalanga – is dat daar geen water by die rioolsuiweringsaanleg inloop nie, wat beteken dat die rou riool net so by die pompstasies en mangate uitloop.”

AfriForum se filiaal Pionier Dienstemaatskappy het ook vir sowat drie maande twee wateraanlegte en een rioolafvalwaterbehandelingswerke van die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit suksesvol bestuur nadat die Kgetlengrivier Concerned Citizens ’n hofbevel bekom het en Pionier Dienstemaatskappy aangestel is om die aanlegte namens die forum te bestuur. Om die toekoms van ons waterbronne te red en te beskerm lê in die hande van plaaslike gemeenskappe en nie net in dié van munisipaliteite nie.

AfriForum versoek elke jaar dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) weer ’n blou-en-groendruppelverslag bekend maak en verwelkom dus dat die Departement vroeër vanjaar bekend gemaak het dat hulle weer die blou-en-groen-druppelverslag gaan opstel om sowel die waterkwaliteit as infrastruktuurkwaliteit in die land te bepaal. AfriForum sal sodra die Departement hulle verslag bekend maak dit noukeurig deurwerk en moniteer.

“Die grootste vraag is egter of die munisipaliteite wat vir jare wetend die land se waterbronne besoedel het aanspreeklik gehou gaan word? Die Departement moet nou tande wys en byt waar hulle kan om die wat besoedel strafregtelik te vervolg,” sê De Klerk.

As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige party is nie.

Is jóú dorp se water skoon? SMS die naam van jou dorp na 45340 (R1) en gee AfriForum die mandaat om die watergehalte van jou dorp te toets.

* ’n Volledige lys van dorpe wat tydens die blou-en-groendruppelprojek getoets is, is in die amptelike verslag beskikbaar. Klik hier om die verslag te lees.

Soortgelyke plasings