AfriForum maak drinkwater-en-riool-, asook vullisterreinverslag bekend


AfriForum het vanjaar weer die gehalte van drink- en rioolwater in 199 Suid-Afrikaanse dorpe getoets en 114 vullisterreine landwyd geoudit. Die resultate van dié verslae toon dat munisipaliteite steeds artikel 24 van die Grondwet – wat ’n gesonde omgewing vir Suid-Afrikaners verseker – verontagsaam.

Die watertoetse vorm deel van AfriForum se blou-en-groendruppelveldtog en die betrokke dorpe se gemeenskappe is daarby betrek. Lede van die gemeenskap het ook opleiding ontvang om die toetse uit te voer en die nodige toerusting is na elke AfriForum-tak in Suid-Afrika versprei. Die verslag dui daarop dat twaalf dorpe se drinkwater (bloudruppel) en 52 rioolstelsels (groendruppel) nie aan die nasionale standaarde voldoen nie. Slegs 29% (33 uit 114) van die vullisterreine wat geoudit is, het aan die minimum vereistes voldoen wat in die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (wet no. 59 van 2008) gestipuleer word. Dit is ’n merkbare aanduiding van die regering en munisipale amptenare se swak dienslewering in Suid-Afrika.

“Gemeenskappe moet aandring op hul reg op toegang tot skoon, lopende water en voortaan die onderskeie munisipaliteite tot verantwoording roep deur die gehalte van drink- en rioolwater gereeld te moniteer. Die blou-en-groendruppeluitslae is kommerwekkend – veral ten opsigte van swak rioolbestuur – en dui op verdere verval van Suid-Afrika se infrastruktuur en ’n tekort aan bekwame personeel om dié infrastruktuur te bestuur. AfriForum het die inwoners in dorpe waarvan die drinkwatergehalte nie binne die gestelde mikrobiologiese standaarde val nie gewaarsku om nie dié water te drink nie, en die betrokke munisipaliteite versoek om die watergehalte binne 24 uur te herstel,” sê Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake.
In 2017 is bevind dat 59 van 88 rioolwaterstelsels (dus sowat 67%) nie aan gestelde standaarde voldoen nie, teenoor 52 van die 108 stelsels (dus sowat 48%) wat in 2018 getoets is. Hoewel daar ’n verbetering in die laaste finansiële jaar was, is daar steeds ’n probleem met die bestuur van rioolafvalwaterbehandelingswerke. “Ek dink baie gemeenskappe besef nou dat die regering nie in staat is om die situasie op eie stoom te red nie. Daarom is selfdoenprojekte nodig, waar kundiges vrywillig betrokke raak en self die infrastruktuurkwessies oplos om waterbesoedeling hok te slaan,” sê Pawson.

’n Volledige lys van dorpe wat tydens die blou-en-groendruppelveldtog getoets was, is in die amptelike verslag beskikbaar. Klik hier.
Wat die swak resultate van die vullisterreinoudit betref, is dit duidelik ’n produk van die onvermoë in die Suid-Afrikaanse afvalbestuurstelsel. Die aantal suksesvolle vullisterreine wat die oudit geslaag het, is wel ’n verbetering op 2017 se statistiek, toe slegs 22% van vullisterreine aan 80% of meer van die minimum wetsvereistes voldoen het.
In die amptelike verslag lys Chris Boshoff, koördineerder vir omgewingsake by AfriForum, sowel kommerwekkende kwessies as positiewe aspekte wat by verskeie vullisterreine aanwesig was. Boshoff noem dat AfriForum as deel van dié projek ook oudits op vier privaat vullisterreine gedoen het. Dié terreine spog met ’n gemiddeld van 97,5% teenoor staatsbeheerde vullisterreine, wat ’n gemiddeld van slegs 38% in die oudit behaal het.
Klik hier vir die amptelike vullisterreinouditverslag.

“AfriForum het reeds aanmaningsbriewe aan al die munisipaliteite gestuur waarvan die vullisterreine nie aan die minimum vereistes voldoen nie. AfriForum dring ook daarop aan dat dié munisipaliteite die aksieplanne aan ons voorsien wat hulle gaan volg om vullissterreine weer op standaard te bring. Indien die munisipaliteite nie hieraan gehoor gee nie, sal AfriForum die gemeenskap bystaan om, waar moontlik, sélf die vullisterreine te rehabiliteer,” sluit Pawson af.

Help om jou omgewing skoon en netjies te hou: Sluit by hierdie veldtog aan deur “Omgewing” na 45354 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings