AfriForum maak Gauteng-Suid se blou-en-groendruppelstatus bekend


AfriForum het in Mei 2017 verskeie dorpe in Gauteng-Suid se water getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- (bloudruppel) en rioolwater (groendruppel) te bepaal.

“Ons kon vasstel dat die oorgrote meerderheid van die dorpe se drinkwater skoon is en geen skadelike bakterieë bevat nie. AfriForum gaan die watergehalte egter deurlopend evalueer om die grondwetlike regte van dié dorpe se inwoners te beskerm en te verseker dat hulle van skoon drinkwater voorsien word,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se streekskoördineerder vir Gauteng-Suid.

Bloudruppel
Die resultate het aangedui dat die hele Gauteng-Suid se drinkwater op standaard en toepaslik vir menslike gebruik is.
Groendruppel
AfriForum het die groendruppelwatergehalte ook getoets. Daar is bevind dat slegs twee van die dorpe se rioolwater aan die gestelde mikrobiologiese standaarde voldoen.

Die burgerregte-organisasie het sy kommer oor die rioolwater in die betrokke dorpe wat nie aan die gestelde standaarde voldoen nie, uitgespreek. Hierdie dorpe sluit Nigel, Randfontein, Springs en Vanderbijlpark in. “Ons sal die aangeleentheid ondersoek en optree indien nodig. Ons het reeds strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder van Randfontein aanhangig gemaak,” sê Swanepoel verder.

AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater (bloudruppel) en behandelde rioolwater (groendruppel) gelewer word.

Soortgelyke plasings