|

AfriForum maak geskiedkundige begraafplaas skoon

AfriForum se Ottosdal-tak het op 5 Februarie 2022 die Anglo-Boereoorlog-begraafplaas in die dorp skoongemaak en opgeknap aangesien die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit versuim het om die begraafplaas te onderhou en vir ’n geruime tyd geen instandhoudingswerk by die begraafplaas gedoen het nie.

“Die begraafplaas is ook ’n rusplek vir die boere en Engelse wat gedurende die Anglo-Boereoorlog omgekom het en hier begrawe is. Die begraafplaas is vir ons van groot geskiedkundige waarde en daarom het ons as tak besluit om die begraafplaas skoon te maak en weer op te knap,” sê Leon Botha, AfriForum se takvoorsitter vir Ottosdal. 

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir Gemeenskapsake vir die sentraalstreek is die aksie ’n uitstekende voorbeeld vir gemeenskappe wat wil opstaan teen die staatsverval wat gemeenskappe lamlê. “Dit is tyd dat gemeenskappe opstaan vir hul regte deur selfbestuur toe te pas. Munisipaliteite soos dié het lankal gefaal in hulle wetlike plig om dienste volhoubaar te lewer en daarom lê die oplossing nou by ons as gemeenskap om die dienste te lewer. Ons kan nie die staat met ons geskiedenis vertrou nie en daarom het ons tak ingespring en dit self begin skoonmaak.

“Daar is nog heelwat werk wat by die begraafplaas gedoen moet word en daarom nooi ons graag die hele gemeenskap uit om ons te kom help met dié skoonmaakprojek,” sluit Botha af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Ottosdal” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings