|

AfriForum maak Limpopo se blou-en-groendruppeluitslae bekend

AfriForum het van vanjaar verskeie dorpe in Limpopo se water getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal.

“Ons kon vasstel dat die drinkwater in Marble Hall, Mookgophong (Naboomspruit), Modimolle (Nylstroom), Bela-Bela (Warmbad), Lephalale (Ellisras), Thabazimbi, Thabazimbi-Suid, Mokopane (Potgietersrus), Polokwane (Pietersburg), Musina, Tzaneen, Phalaborwa en Groblersdal aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets want inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” sê Magdel Jansen Van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Limpopo-streek.

Bloudruppeluitslae

Dié uitslae dui daarop dat al die dorpe van Limpopo se drinkwater wat getoets is, skoon is.

Groendruppeluitslae

Volgens AfriForum se groendruppeluitslae voldoen 11 rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is, nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie.

Die burgerregteorganisasie het sy kommer uitgespreek oor rioolsuiweringsaanlegte binne die munisipaliteite waarvan die rioolwater nie aan die gestelde standaarde voldoen nie. “Ons sal die nienakoming verder ondersoek en optree waar nodig,” sê Jansen van Vuuren.

“AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word,” sluit Jansen van Vuuren af.

AfriForum versoek elke jaar dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) weer ’n blou-en-groendruppelverslag bekend maak en verwelkom dus dat die Departement vroeër vanjaar bekend gemaak het dat hulle weer die blou-en-groen-druppelverslag gaan opstel om sowel die waterkwaliteit as infrastruktuurkwaliteit in die land te bepaal. AfriForum sal sodra die Departement hulle verslag bekend maak dit noukeurig deurwerk en moniteer.

As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige partye is nie. Dit is van kardinale belang dat ons nie ophou om die gehalte van ons drink- en rioolafvalwater toets nie. Ons moet dié lewensbelangrike bron beskerm.

AfriForum versoek inwoners van Limpopo om aan dié organisasie die mandaat te gee om die gehalte van water voortdurend te moniteer. SMS “Skoon water” na 45342 (R1) en steun hierdie aksie.

  • Lees die volledige verslag hier

Soortgelyke plasings