| |

AfriForum maak ’n verskil in Bloemfontein

Die AfriForum-takke in Bloemfontein het die afgelope tyd gewys dat hulle ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap maak veral wat veiligheid en omgewingsake betref.

Op Donderdag 23 September omstreeks 17:45 is daar ’n noodboodskap oor ’n vermiste persoon op die AfriForum Wilgehof se Sektor 3 Whatsappgroep geplaas. Die buurtwagleier in dié sektor het dadelik die boodskap aan verskeie AfriForum-buurtwagleiers in die suide van Bloemfontein oorgedra en kort daarna het die patrolleerders met ’n soektog begin. Fidelity ADT het die buurtwagte in Sektor 3, Sektor 4 en Sektor 5 gehelp met die soektog. Die hommeltuigvlieënier is ook gevra om hulp te bied indien nodig. Ná die nodige inligting ingesamel en bevestig is, is die vermiste persoon opgespoor en met hulle familie herenig.

“Hierdie sukses kan toegeskryf word aan die goeie verhoudings wat die buurtwagte met ander veiligheidstrukture in die omgewing het. Die opstel van ’n gesamentlike operasionele sentrum (GOS) en die implementering van die regte tegnologie het verseker dat die vermiste persoon veilig opgespoor kon word,” sê Joseph Renaud, hoof van gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek. “Ons wil graag elke rolspeler bedank wat ’n aktiewe bydra lewer om die gemeenskap se veiligheid te bevorder.”

Die takke het ook hulle deurlopende projekte voortgesit met die volhoubare instandhouding van Rayton-Heuwelsig se parkie in Lucas Steynstraat, die Pres. Brand-begraafplaas en die Brits-monument binne die Ou Presidensie.

Op Erfenisdag het die graad 9-leerders van Hoërskool Jim Fouché, met behulp van AfriForum Wilgehof, AfriForum Jeug, en DDP Civils, die treinspoor in Aalwynlaan skoongemaak. 

Die AfriForum-tak in Fichardtpark het vullissakke verwyder aangesien die munisipaliteit versuim het om dit vir amper drie weke te doen. Waste Retrievers het hulp verleen aan dié tak en sowat 48 ton vullis is in totaal verwyder.

Die AfriForum 911 mediese reaksievoertuig het by die Divine Elite skool besoek afgelê vir die skool se beroepsdag. Daar is onder meer met die kinders gesels oor die daaglikse werk wat paramedici doen, hierdie aksie is in samewerking met Life Rosepark Hospitaal se noodpersoneel gedoen.

“Dit is wonderlik om die netwerk van AfriForum-takke in Bloemfontein in aksie te sien. Hierdie georganiseerde groep doeners maak ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap. Ons gaan aanhou fokus daarop om Bloemfontein netjies en veilig te hou sodat almal ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms kan hê,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.

Sluit vandag by jou plaaslike AfriForum tak aan, SMS “AfriForum” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings