AfriForum maak Naboomspruit skoon terwyl munisipale werkers staak


AfriForum se Naboomspruit-tak het in samewerking met Solidariteit Helpende Hand op 6 en 7 Desember 2017 die dorp skoongemaak terwyl munisipale werkers vir groter salarisse gestaak het.

“Die werkers het vir langer as twee weke gestaak en die dorp was vol vullis. As die munisipaliteit nie dienste lewer nie, sal die gemeenskap moue oprol en dit self doen,” sê Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, is hierdie aksie ’n goeie voorbeeld van hoe ’n betrokke gemeenskap ’n verskil kan maak.

“Hierdie is ’n gemeenskap wat nie bloot toekyk hoe hul dorp onder munisipale verval ly nie, maar eerder ’n positiewe verskil maak waar die munisipaliteit versuim om sy pligte na te kom.”

Grobbelaar het bygevoeg dat die tak dreigemente van munisipale amptenare oor die skoonmaakaksie ontvang het, maar dat dit hulle nie gestuit het nie.

“Ons het dreigemente ontvang dat die vragmotor wat die vullis verwyder het, afgebrand sou word, maar ons sal nie toelaat dat geweldsdreigemente ons afskrik en ons daarvan weerhou om die regte ding te doen nie. Die gemeenskap van Naboomspruit is geregtig op ’n skoon, netjiese omgewing en daarom sal ons aanhou om soortgelyke aksies te dryf.”

Tydens die skoonmaakaksie het verskeie veiligheidsorganisasies patrollie gery ten einde bystand te bied indien betogers gewelddadig sou raak.
Ondersteun AfriForum met hierdie inisiatief: SMS jou naam na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings