|

AfriForum maak ook beswaar teen Skolewet-veranderings

Deur Alet Rademeyer

Die burgerregte-organisasie het vandag sy stem by die van duisende beswaarmakers gevoeg wat bekommerd is oor die implikasies van die meeste klousules in die wysigingswetsontwerp op basiese onderwys.

Die wysigingswetsontwerp op die Skolewet is vroeër vandeesmaand in die Staatskoerant afgekondig. Die publiek, organisasies en ander belangegroepe het tot vandag tyd om voorstelle teen die wysigingswetsontwerp in te dien.

Daar is 46 klousules in die wysigingswetsontwerp wat veranderinge in die bestaande wetgewing voorstel.

Kritici is bekommerd dat van die wysigings nie ten doel het om die gehalte van onderrig in die land te verbeter nie. Daar word selfs van ’n kaping van die skoolstelsel gepraat.

Van die klousules behels dat:

  • Die magte van beheerliggame verder sal verskraal deurdat hulle nie meer ’n volle sê sal hê oor aanstellings by skole nie.
  • Alle onderwysers en hul lewensmaats hul finansiële belange by die departement moet verklaar.
  • Skole gedwing sal word om ’n sentrale aankoopstelsel te gebruik.
  • Onderwysowerhede skole se geriewe willens en wetens kan gebruik sonder om daarvoor te betaal.
  • Beleidstukke oor taal en toelating, waaroor beheerliggame nog altyd besluit het, eers aan die provinsiale onderwyshoof vir goedkeuring voorgelê moet word.

Melanie Buys, onderwyskundige, meen die klousules misken gemeenskappe se betrokkenheid en ouers se inspraak by skole. “Die wysigingswetsontwerp wil ’n outokratiese en voorskriftelike model van staatskole afdwing waar amptenare skole beheer en aan hulle voorskryf.”

AfriForum het ook ’n regsmening oor die wysigingswetsontwerp ingewin en verskeie voorstelle aan die onderwysdepartement gemaak.

Die organisasie meen die wetsontwerp het inderdaad positiewe elemente, maar van die klousules is daarop gemik om al meer mag van skoolgemeenskappe weg te neem en in die hande van die staat te sentreer.

Volgens Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, is baie van die wetswysigings onnodig en is van die klousules die gevolg van huidige wanprestasie en wanadministrasie van die onderwysdepartement.

AfriForum dien spesifieke voorstelle en kritiek in met die oog op verdere regsaksie as die departement nie hierop ag slaan nie.

Ouers, onderwysers en lede van die publiek wat AfriForum in die saak wil ondersteun, kan R10 skenk deur hul naam en die woord “Skolewet” na 38313 te SMS.

Soortgelyke plasings