|

AfriForum maak stem dik by polisiekantoor teen voortslepende plaasmoorde

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Sowat 30 AfriForum-ondersteuners het vandag aan ’n protesaksie in Pretoria deelgeneem om slagoffers van plaasmoorde te gedenk en ’n mosie van wantroue teen die SAPD in te dien wat versuim om die moorde as prioriteitsmisdaad te hanteer.

Die memorandum fokus op die polisie se onvermoë en onwilligheid om daadwerklik teen plaasmoorde op te tree, akkurate statistieke oor plaasmoorde en –aanvalle bekend te maak asook gereelde neerbuigende kommentaar deur senior amptenare van die departement teenoor diegene wat vra vir die prioritisering van plaasmoorde. Die memorandum verwys ook na die weiering deur die department en Nathi Nhleko, minister van polisie, om daadwerklik met oplossings vir die krisis vorendag te kom.

Nadat AfriForum en naasbestaandes van die slagoffers vir ’n uur in Pretoriusstraat gewag het vir ’n verteenwoordiger van die minister om die memorandum te ontvang, het hulle na die ingang van die hoofkantoor van die polisie beweeg waar kranse ter herinnering aan slagoffers gelê is. Sowat 30 boere en gesinslede en werkers is sedert die begin van die jaar in aanvalle dood.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, en Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het daarna gepoog om die memorandum by die polisiekantoor in te handig. ’n Aantal gewapende polisiemanne het hulle egter verhoed om dit te doen wat tot ’n gestampery tussen die partye gelei het. Die polisie het gedreig om AfriForum-lede te arresteer.

Bernadette Hall, wie se man David, in 2012 op hulle plaas naby Fochville vermoor is, is ook deur polisiebeamptes hardhandig behandel. Hall was in 2012 ten tyde van die aanval ook aangehou en geslaan. Die moordenaars is op tegniese gronde vrygespreek.

Roets het gesê AfriForum gaan na vandag se voorval klagtes teen Nhleko, genl. Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, en die Tshwane-metropolisie indien.

Roets het gesê AfriForum het al die vereistes van die Wet op die Regulering van Openbare Byeenkomste nagekom het en dat die byeenkoms vreedsaam en wettig was. “Ondanks al die bewyse dat die minister se kantoor en die Tshwane-metropolisie ons kennisgewing om hierdie byeenkoms te hou ontvang het, is daar vandag beweer dat niemand van die byeenkoms ingelig is nie en dat dit, in hulle opinie, ’n onwettige byeenkoms was.”

Roets het die gebeure as “die ergste vorm van onsensitiwiteit denkbaar” beskryf.

Hy het gesê: “’n Groep slagoffers wie se geliefdes vermoor is, nader die polisie vir hulp, maar die metropolisie versuim om sekuriteit vir die byeenkoms te reël, die minister weier om hulle memorandum te ontvang en hy stuur sy troepe om die slagoffers rond te stamp nadat hulle vir ’n uur in die straat moes wag. Dit is ’n skending van elke slagoffer se basiese regte op vryheid van beweging, vryheid van spraak en vryheid van liggaamlike integriteit. As die minister van mening is dat diegene wat die prioritisering van plaasmoorde versoek met boelie-taktiek stilgemaak kan word, maak hy ’n reuse-fout.”

Claudine van Wyk, ’n geliefde van drie plaasmoord-slagoffers en haar man, Frik, het ook hul frustrasies teenoor die polisie uitgespreek. “Die polisie is nie goed genoeg opgelei om plaasaanvalle te hanteer nie, hulle het ’n apatiese houding en geen wil om boere en hul werkers te help beskerm nie”, het sy aan Forum Nuus gesê.

Sy het bygevoeg dat sy die polisie wil uitdaag om hul pligte na te kom en meer toegewyd te wees om iets aan die veiligheid van plaasbewoners te doen. “Dit is nie reg dat ’n weerlose ou man pap geslaan is en vasgebind is vir ’n paar rand en ‘n selfoon nie.”

Claudine se pa, Sarel Janse van Rensburg is verlede jaar naby Tondeldoos in Limpopo vermoor en die jaar voor dit, is haar oom en tannie, Johan en Gloudien van Rensburg by Cosmopolite buite Baltimore wreed aangeval en geskiet. Gloudien is na twee weke in die hospital dood.

AfriForum Jeug het ook kranse gelê om hul ondersteuning te toon.

Paul Kruger, ’n lid van AfriForum Jeug se Tukkies-tak het gesê dat dit vir die jeug belangrik is om mense wat afgeknou en weerloos voel, te kom ondersteun. “Drastiese stappe moet geneem word om plaasmoorde te prioritiseer, gemeenskappe en buurtwagte kan nie alleenlik verantwoordelik wees vir hul eie veiligheid nie.”

Kruger het bygevoeg dat hy dink die polisie is onbekwaam om plaasaanvalle te hanteer en moet beter opgelei word.

 

Soortgelyke plasings