|

AFRIFORUM MAAK SY BLOU-EN-GROENDRUPPELVERSLAG BEKEND

AfriForum het vanjaar as deel van die organisasie se jaarlikse blou-en-groendruppelprojek die drinkwater (bloudruppel) in 220 dorpe en die verwerkte rioolwater (groendruppel) van 118 rioolafvalwaterbehandelingswerke getoets. Die uitslae van dié verslag toon dat baie munisipaliteite steeds Artikel 24 van die Grondwet – wat ’n gesonde omgewing vir Suid-Afrikaners verseker – verontagsaam.

Luidens die verslag het vyf dorpe (Boshof, Brits, Delareyville, Sannieshof en Stella) se drinkwater en 90 rioolstelsels nie aan die nasionale standaarde voldoen nie. Nadat AfriForum hierdie vyf dorpe se munisipaliteite daarvan in kennis gestel het, het opvolgwatertoetse daarop gedui dat die water weer geskik is vir menslike gebruik. Dit is ’n merkbare aanduiding van die regering en munisipale amptenare se swak dienslewering, veral met betrekking tot rioolaanlegte.

Die projek was vanjaar belangriker as ooit weens die COVID-19-pandemie en navorsing wat toon dat die siekte vanuit rioolstelsels opgespoor kan word, wat beteken dat ’n mens brandpunte kan identifiseer.

“Gemeenskappe moet aandring op hul reg op toegang tot skoon, lopende water en voortaan die onderskeie munisipaliteite tot verantwoording roep deur die gehalte van drink- en rioolwater gereeld te moniteer. Die bloudruppelstatus van die dorpe wat nie aan die standaarde voldoen het nie, is kommerwekkend aangesien vier van hierdie dorpe verlede jaar ook nie op standaard getoets het nie.

“Die groendruppeluitslae is nog meer kommerwekkend – veral ten opsigte van swak rioolbestuur – en dit dui op die verdere verval van Suid-Afrika se infrastruktuur. ’n Tekort aan bekwame personeel om dié infrastruktuur te bestuur en die gebrekkige instandhouding van aanlegte is ook kommerwekkend,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

Altesaam 90 van 118 rioolafvalwaterbehandelingswerke wat in 2020 getoets is, voldoen nie aan die gestelde standaarde nie en daar is steeds ’n probleem met die bestuur van rioolafvalwaterbehandelingswerke. “Dit is ’n groot bron tot kommer dat soveel aanlegte riool in ons riviere stort. Dit is ook merkwaardig dat toegang by aanlegte geweier is, en dat daar by sommige aanlegte geen water by die uitlaat vloei nie.”

“Die regering is nie ernstig oor die gesondheid van Suid-Afrikaners nie. Dit is duidelik te bespeur uit die feit dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) bankrot is en ’n parlementêre ondersoek in die gesig staar oor wanbestuur. Die laaste amptelike Blou-en-groendruppelverslag is in 2012 gepubliseer. Die ANC-regering probeer sy onbevoegdheid wegsteek deur inligting van die publiek en selfs die parlement te weerhou terwyl gewone mense daagliks onder dié waterkrisis gebuk gaan. Ons kan nie langer op die staat vertrou om veilige water te verskaf nie en daarom toets ons self die watergehalte,” sê De Klerk.

As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige party is nie.

Is jóú dorp se water skoon? SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1) en gee AfriForum die mandaat om die watergehalte van jou dorp te toets.

* ’n Volledige lys van dorpe wat tydens die blou-en-groendruppelprojek getoets is, is in die amptelike verslag beskikbaar. Klik hier.

Soortgelyke plasings