AfriForum maak vullisterreinouditverslag bekend


AfriForum het vandag sy jaarlikse vullisterreinouditverslag bekend gestel nadat die organisasie vanjaar vullisterreine geoudit het in die dorpe waar AfriForum-takke gevestig is. Dié verslag gaan ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek.

Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. AfriForum het hierdie vereistes vanuit die minimum standaarde waaraan ’n vullisterrein moet voldoen in 33 vrae verwerk wat gebruik is om die vullisterreinoudit te voltooi.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se projekkoördineerder vir omgewingsake, dui die bevindinge in die verslag aan dat slegs 22% (28 uit 127) van die vullisterreine aan die minimum vereistes voldoen soos uiteengesit in die bogenoemde wetgewing. “Die lae persentasie kan toegeskryf word aan ’n aantal probleme wat munisipaliteite ondervind wat lei tot die swak en onwettige bestuur van vullisterreine. Wanbesteding, swak instandhouding en die gebrek aan wilskrag om die probleem op te los is net ’n paar probleme wat ons daagliks ondervind. Die aantal vullisterreine wat aan die minimum vereistes voldoen en bo 80% vir die oudit gekry het, het egter vanaf 2018 verswak.”
Grobbelaar lys die volgende kommerwekkende kwessies wat by verskeie vullisterreine ondervind is:

  • Geen toegangsbeheer of kennisgewings op die hek wat aandui watter tipe afval daar gestort mag word nie.
  • Geen heining rondom die vullisterrein nie.
  • Infrastruktuur soos weegbrûe ontbreek, terwyl masjinerie ook buite werking is.
  • Onwettige mediese afval word op die terreine gestort, wat ondergrondse water kan besoedel.
  • Families met kinders woon op sommige van die terreine.
  • Die afvalmoniteringskomitee van die munisipaliteit waarvan die gemeenskap deel is, is in baie dorpe afwesig. 
  • Diere wei op vullisterreine en eet van die afval.
  • Swak rehabilitasie en kompaksie vind op die terreine plaas, wat veroorsaak dat die vullis rondwaai en omliggende omgewings besoedel.

“Met vanjaar se oudit het ons die positiewe verskil wat die implementering van ’n afvalmoniteringskomitee by ’n munisipaliteit meebring, gesien. Die Libanon-vullisterrein in Westonaria, wat verlede jaar ’n skamele 9% vir die vullisterreinoudit ontvang het, het binne ses maande na ’n spogvullisterrein (100% in 2019) verbeter. Daarom moedig ons sowel gemeenskappe as munisipaliteite aan om afvalmoniteringskomitees te stig sodat ander rolspelers ook ’n sê in die bestuursproses van vullisterreine het.”

Gemeenskappe kan dié stappe volg om ’n volhoubare verbetering by ’n vullisterrein te bewerkstellig:

  • Gemeenskappe moet druk op munisipaliteite plaas om afvalmoniteringskomitees te stig.
  • ’n Vergadering moet een keer per maand belê word waartydens die stand van die vullisterrein bespreek en doelwitte met haalbare tydperke gestel word.
  • Bou goeie verhoudings met die munisipaliteite en betrokke rolspelers.
  • Dring aan op die aanstelling van ’n betroubare diensverskaffer wat geskik is vir die werk.
  • Pas volhoubare druk toe via die afvalmoniteringskomitee om seker te maak dat die doelwitte wat gemaak is bereik word.

Grobbelaar sê verder dat alternatiewe oplossings vir munisipaliteite beskikbaar is om vullis beter te bestuur en om selfs ’n groter bydrae tot gemeenskappe te maak. “Afval-tot-energie is ’n konsep wat glad nie toegepas word op die manier waarop munisipaliteite ons vullis tans bestuur nie. Die konsep sluit die proses in waar vullis gebruik word om krag met verskillende prosesse (verbranding of vergassing) op te wek, wat bydra tot werkskepping, kragvoorsiening en die opheffing van gemeenskappe.”
Grobbelaar meen munisipaliteite moet na dié tipe oplossings begin kyk om Suid-Afrika se vullisbestuur op peil te kry. “AfriForum sal graag met die implementering van oplossings wil help en moedig munisipaliteite ook aan om met die organisasie in verbinding te tree. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons omgewing nie besoedel word nie en daarom wil ons ook tot ’n skoner Suid-Afrika bydra.”
Só het die vullisterreine per provinsie gevaar ten opsigte van die minimum vereistes:

Provinsie Getal vullisterreine wat geoudit is Getal vullisterreine wat voldoen aan meer as 80% van die minimum vereistes Getal vullisterreine wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie
  2019 2019 2019
Wes-Kaap 9 4 5
Noord-Kaap 12 2 10
Oos-Kaap 6 2 4
Vrystaat 20 0 20
Mpumalanga 25 2 23
Gauteng 21 11 10
Limpopo 12 4 8
KwaZulu-Natal 7 2 5
Noordwes 15 1 14
Nasionale totaal 127 28 99

 
Help om jóú omgewing skoon en netjies te hou: SMS jou dorp se naam na 45354 (R1) en sluit by dié inisiatief aan.

Soortgelyke plasings