AfriForum maan Lekwa Munisipaliteit aan oor slordige begraafplaas


Die AfriForum-tak in Standerton het op 11 Julie 2017 ’n aanmaning aan die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit gestuur oor die voortdurende haglike toestand van dié dorp se begraafplaas in Britsstraat. AfriForum eis in die aanmaning dat die munisipaliteit voor 1 Augustus 2017 die begraafplaas skoonmaak.
Dít volg nadat AfriForum ’n versoekskrif aan Linda Tshabalala, die munisipale bestuurder, gerig het met die voorstel dat die burgerregte-organisasie en die munisipaliteit saam moet werk om die begraafplaas skoon te maak. AfriForum het tot op hede geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie.

“Die AfriForum-tak in Standerton wou saam met die munisipaliteit aan ’n volhoubare oplossing werk, maar ongelukkig blyk dit dat die munisipale bestuur geen respek vir die gemeenskap het nie,” sê Hillel Coetzer, streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

Indien die munisipaliteit nie aan AfriForum se versoek gehoor gee nie, beplan die burgerregte-organisasie ’n nasionale begraafplaas­skoonmaakaksie in Augustus. Ondersteun jou plaaslike AfriForum-tak deur by dié inisiatief betrokke te raak.

Soortgelyke plasings