|

AfriForum maan Mangaung Metro oor swak dienslewering

AfriForum het op 18 Augustus 2020 ’n brief aan sowel die burgemeester as die munisipale bestuurder van die Mangaung Metro gestuur oor die swak dienslewering en meer spesifiek die vullisverwydering in Bloemfontein. Die brief volg nadat talle inwoners AfriForum met klagtes genader het oor die swak vullisverwyderingsdiens wat hulle ontvang.

AfriForum versoek in die brief dat die metro aksieplanne voorlê om die swak dienslewering te verbeter.

“Volgens wet is dit die munisipaliteit se plig om inwoners se vullis een keer per week te verwyder. Op die oomblik versuim die metro om hul wetlike pligte teenoor belastingbetalers na te kom en AfriForum sal verdere opsies oorweeg om druk uit te oefen sodat die dienste wel gelewer word soos deur die wet vereis,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek.

Indien die metro nie gehoor gee aan die brief of inwoners se klagtes nie, sal die organisasie ander oplossings ondersoek soos om die diens self te begin lewer.

“Inwoners is tans onseker of hulle vullis verwyder gaan word of nie. Soms word die diens gelewer en ander kere lê die vullissakke vir weke op sypaadjies omdat ’n trok gebreek het of die munisipale werkers besig is om te staak. Vullis wat nie verwyder word nie hou groot gesondheidsrisiko’s vir die gemeenskap in. Diere skeur ook die sakke oop en dan waai vullis oral rond,” voeg Grobbelaar by.

AfriForum het die metro tot 21 Augustus gegun om op die brief te reageer en daadwerklike planne voor te lê om die probleem op te los.

“Inwoners van Bloemfontein het die reg tot ’n skoon en veilige omgewing en daarom is dit noodsaaklik om aan te dring dat vullis gereeld verwyder word. Belastingbetalers betaal maandeliks vir ’n diens wat hulle selde of glad nie ontvang nie en daarom moet die metro verantwoordbaar gehou word.”

Help AfriForum om die metro verantwoordbaar te hou deur “Vullis” na 32688 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings