AfriForum maan SARU oor politieke inmenging wat lei tot uitsluiting van rugbyklub

AfriForum veroordeel die besluit van die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (SARU) om in te stem tot die uitsluiting van ’n span van die Israeliese rugbyklub, Tel Aviv Heat, by die Mzansi Challenge – ’n plaaslike toernooi. Die burgerregteorganisasie meen SARU het geen weerstand gebied  teen die politieke druk om die uitnodiging aan die Israeliese rugbyklub terug te trek nie.

In ’n brief aan Mark Alexander, die president van SARU, eis AfriForum dat dié rugbybestuursliggaam hul beleid op ’n formele wyse kommunikeer en konsekwent moet toepas. “Die Goshawks van Zimbabwe word toegelaat om deel te neem terwyl die menseregteskendings wat in Zimbabwe plaasvind algemene kennis is. Wat vir die een geld moet ook vir die ander geld,” sê Ronald Peters, bestuurder van Sport by AfriForum.    

Peters meen verder dat hierdie besluit ongegrond en onregverdig is aangesien sportlui die prys moet betaal vir politieke agendas wat gedryf word. “Daar moet geen ruimte wees vir politieke inmenging by sport nie. Hierdie polities gemotiveerde besluite ontneem sportlui van die geleentheid om hul roeping uit te leef en hul volle potensiaal te bereik. Hierdie besluit moet heroorweeg word sodat SARU ’n sterk boodskap kan uitstuur dat hulle besluitnemingsprosesse nie beïnvloed word deur politieke inmengery nie.”

AfriForum is sterk gekant teen enige politieke inmenging in sport, aangesien politici ver verwyderd is van die rol wat sport werklik in die ontwikkeling en bemagtiging van gemeenskappe behoort te speel.

Soortgelyke plasings