AfriForum Maand van Selfstandigheid-aksie: Meyerspark-tak se buurtwag woeker


Lede van AfriForum se Meyerspark-buurtwag het op 16 Oktober 2017 ’n suksesvolle dorpspatrollie voltooi wat ook ’n skoonmaakaksie ingesluit het. Dié goeie werk is op 17 Oktober voortgesit toe die buurtwag ’n vermeende asblikdief vasgetrek het. Die buurtwag doen werk in onder meer Meyerspark, Equestria, Silverton en Silverton-uitbreiding 6 en 8.
Tydens die skoonmaakaksie is alle onwettige borde en plakkers verwyder wat op straatpale aangebring is, en sowat vier bakkievragte hiervan is weggery. Die asblikdief is aan die polisie oorhandig, wat ’n saak teen hom geopen het.

“Ons is hier om ’n daadwerklike verskil te maak en wil voortdurend saam met ander veiligheidstrukture werk om die beveiliging van ons omgewing te bewerkstellig,” sê Andre Badenhorst, veiligheidsvoorsitter vir AfriForum se Meyerspark-tak.
“Buurtwagte is daar om hulp aan die plaaslike SAPD te bied en om te help om die gemeenskap tydens noodgevalle te mobiliseer. Hierdie is ’n baie goeie voorbeeld van die belangrikheid van dié soort samewerking,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng.

 

Soortgelyke plasings